AfriForum woeker in Chrissiesmeer gedurende Oktober
AfriForum se Ermelo- en Chrissiesmeer-tak se hande het gedurende Oktober vir niks verkeerd gestaan nie. Dié takke het alles in die stryd gewerp om te verseker dat die onderskeie dorpe verbeter word. Die Chrissiesmeer-tak het vroeër vandeesmaand op ’n veldbrand gereageer wat op Laerskool Chrissiesmeer se gronde uitgebreek het. Dié AfriForum-buurtwag het vinnig gereageer en gehelp om saam met plaaslike boere en lede van die gemeenskap die brande onder bedwang te bring. Die buurtwag het verlede jaar ’n vuurvegter aangekoop om juis in hierdie verband die gemeenskap by te staan.
Ermelo se AfriForum-tak het ook twee watertenks aan Laerskool Breyten geskenk om bystand te bied met die voortdurende watertekorte wat dorp lamlê. Die tenks sal nou geïnstalleer word om meer reserwes aan die skool te bied vir tye wat daar watertekorte heers. Daar sal ook later ’n waterpunt vanaf die tenks vir die gemeenskap opgerig word. Soortgelyke waterpunte is ook in beplanning vir Ermelo en Chrissiesmeer.
Die Chrissiesmeer-buurtwag het die afgelope naweek deelgeneem aan Operasie Hoofweg. Dié inisiatief is deur AfriForum van stapel gestuur om veiligheid in Mpumalanga op te skerp. Gedurende die weeklange patrollies het buurtwagte veral daarop gefokus om sigbaarheid op hoofroetes in die provinsie, soos die N12, te verhoog. Die doelwit hiervan was om kapings en ysterpenlokvalle te voorkom. Die buurtwagte het met behulp van verskeie soorte toerusting soos hommeltuie, voertuie, en patrollies wat te voet gedoen is, buurte en hoofweë beveilig. Daar was ook statiese patrollies langs die roetes gewees om kriminele te ontmoedig. Ermelo se nuwe hommeltuig is ook tydens die operasie rondom Delmas ingespan, waar ’n meer gefokusde area saam met ander dorpe se hommeltuie gepatrolleer is.
Laastens het die Chrissiesmeer-tak sy maandelikse skoonmaakprojek voortgesit en 26 sakke rommel uit die dorp verwyder. Dit bring die totaal vanaf die projek begin is op 85 sakke te staan. Hierdie rommel sou, indien die projek nie van stapel gestuur is nie, waarskynlik net om die dorp rondgestrooi geword het.
“Deur kleiner probleme die hoof te bied is net die begin van AfriForum se pogings om gemeenskappe by te staan. Die gemeenskap begin self eienaarskap neem en een van die dae sal selfs die groter probleme met groot sukses getakel word,” sê Millicent van den Heever, Leier van AfriForum se Chrissiesmeer-buurtwag.
Besoek www.wordlid.co.za om vandag nog by AfriForum se Ermelo- of Chrissiesmeer-tak en -buurtwagte betrokke te raak.