|

AfriForum wil help om infrastruktuur in Pretoria te beveilig

AfriForum het opnuut ’n hand van samewerking aan die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit uitgereik om hul kennis en vaardighede saam te voeg ten einde ’n veiliger stad vir almal daar te stel. Die burgerregteorganisasie het vroeër vanjaar ’n ooreenkoms met dié metro gesluit oor die instandhouding van parke en paaie in woonbuurte. AfriForum wil egter nou ook sy uitgebreide veiligheidsnetwerk aan die Tshwane-metro beskikbaarstel om sodoende proaktief op te tree om infrastruktuur te beveilig.

Die organisasie het verskeie brandpunte in Pretoria identifiseer waar onder substasies, reservoirs en areas wat gereeld onder kabeldiewe deurloop. AfriForum meen dat dit beter is om proaktief op te tree deur hierdie brandpunte te beveilig eerder as om reaktief op te tree wanneer die skade klaar aangerig is.

AfriForum-buurtwagte reg oor die land het reeds vele suksesse behaal met behulp van hul hommeltuigtegnologie en opgeleide hommeltuigvlieëniers. Hierdie hommeltuie kan ook help om infrastruktuur te beveilig en die organisasie het reeds aangebied om opleiding aan Metro-polisielede te gee oor hoe om die hommeltuie so doeltreffend as moontlik aan te wend.

In die noordstreek is die hommeltuie al suksesvol aangewend met situasie-ontledings tydens rampe, veldbrande en onluste, asook om vermiste persone en kabeldiewe op te spoor.

AfriForum beplan om volgende jaar vier steunkringe in die Tshwane-metro te vestig waarvan verskeie organisasies en veiligheidrolspelers deel sal vorm. Hierdie steunkringe sal deur middel van gedeelde hulpbronne en inligting proaktiewe optrede bevorder. AfriForum glo dat die versterking van verhoudings tussen rolspelers en veral met die Tshwane-metro krities is vir ’n veiliger stad.

Volgens Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir groter Pretoria-Noord, is gemeenskapsveiligheid ’n belangrike fokusarea vir die organisasie. “Ons glo dat voorkoming beter is as om ná die tyd skadebeheer toe te pas. Dus, ter wille van ons gemeenskappe en om die verdere beskadiging van ons infrastruktuur te verhoed sal ons die AfriForum-beheerkamer, -buurtwagte, -radionetwerke en -hommeltuie inspan om die Tshwane-metro te help om infrastruktuur in Pretoria te beveilig. Só kan ons ook help om die reaksietyd te versnel wanneer insidente plaasvind.”

Soortgelyke plasings