|

AfriForum Wêreldwyd bied kuieroggend aan vir mense met kinders of kleinkinders in die buiteland

AfriForum Wêreldwyd bied op 4 Desember ’n kuieroggend in Durbanville, Kaapstad, aan vir ouers en grootouers met kinders of kleinkinders wat in die buiteland woon.

Emigrasie het die afgelope jare toegeneem en baie ouers en grootouers het in die land agtergebly toe hul kinders en kleinkinders geëmigreer het. Daarom word hierdie kuiergeleentheid gehou en mense wie se kinders reeds geëmigreer het of wat beplan om te emigreer, word uitgenooi om die oggend  by te woon.

Volgens Sue-Ann de Wet, hoof van Diaspora by AfriForum, het AfriForum Wêreldwyd besef wanneer mense se geliefdes besluit om die land permanent te verlaat, word heelwat uitdagings getrotseer. Hierdie is daarom die ideale geleentheid om ’n waardevolle ondersteuningsbasis op te bou vir daardie dae wat die verlange te veel raak. ’n Ondersteuningsbasis is ook belangrik om te help met die groot aanpassing én die emosionele wipwa.

“Wanneer jy die woord ‘emigrasie’ hoor, dink ’n mens eerste aan iemand wat die land verlaat en selde aan die geliefdes wat agterbly. Emigrasie is nie net ’n lewensveranderende werklikheid vir die kind wat emigreer nie, maar ook vir die mense wat agterbly,” sê De Wet.

Dr. Sulette Ferreira, ’n sosiaal wetenskaplike navorser en familieberadingsterapeut wat spesialiseer in die emosionele uitwerking van emigrasie, is die spreker vir die oggend. Sy is ’n emigrasiekonsultant wat berading aan families verskaf om hulle voor te berei op emigrasie om die meervlakkige verlies te verwerk.

Kundiges gaan onder meer vrae help beantwoord soos hoe emigrasie benader moet word, hoe om verlange te hanteer, hoe om vertroud te raak met die emigrante se nuwe werklikheid en of jy moet oorweeg om alles prys te gee om by hulle te gaan woon.

Gaste gaan ook wenke kan deel wat hulle gehelp het of vrae vra wat sal help om die werklikheid van emigrasie te verstaan

Die kuieroggend vind 4 Desember om 08:30 vir 09:00 by Durbanville Hills Winery plaas. Beperkte plek is beskikbaar en dit is noodsaaklik om te RSVP. Registreer hier vir die kuiergeleentheid. Enige vrae kan gerig word aan Sue-Ann de Wet by wereldwyd@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings