AfriForum waarsku teen uiters hoë brandgevaartoestande; kan lei tot skade en lewensverlies
AfriForum waarsku teen ’n uiters hoë brandgevaar in die noordelike gedeelte van die land wat nou in sy droë seisoen is. Provinsies wat geraak word, is Noord-Kaap, Oos-Kaap, Vrystaat, Noordwes, Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal. Dit is na aanleiding van die hoë temperature, lae humiditeit en sterk winde wat vir die komende weke voorspel word tot en met die eerste goeie reënval. Wegholveldbrande in Gauteng, Noordwes en die Vrystaat het die afgelope drie weke reeds duisende hektare weiding, huise en landbou-implemente en -infrastruktuur verwoes. Boere en werkers is beseer of dood en duisende stuks vee het doodgebrand.
“Vanjaar se veldbrande is baie erger as die vorige jaar aangesien die gras poeierdroog is, die dagtemperature bogemiddeld warmer is en sterk winde die vure aanjaag. Veldbrande is die gevaarlikste brande omdat dit onvoorspelbaar en vinnig is as gevolg van die wind wat skielik van rigting kan verander en die hitte wat deur die vuur afgegee word baie warm is. Die vooruitgang van so ’n vuur kan 4 km per uur oorskry en daarom kan mense en diere nie vir ’n veldbrand weghardloop nie. Dit is dus veiliger om so ver moontlik in die reeds gebrande gedeelte te bly wanneer die vuur geblus word,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis vir AfriForum.
Anders as strukturele brande wat tot geboue of spesifieke gebiede beperk is, kan veldbrande vinnig oor uitgestrekte landskappe versprei wat aangevuur word deur droë plantegroei, sterk winde en wisselende topografie. Hierdie kombinasie skep ’n dinamiese omgewing waar toestande in ’n oofwink kan verander en brandbestryders dikwels vasgekeer raak. Weens ongunstige weerstoestande moet daar baie keer gewag word vir die weer om te verander om groot brande te blus.
Volgens AfriForum is daar veral groot uitdagings met veldbrande in landelike gemeenskappe. Die meeste van die brande kan toegeskryf word aan ’n tendens van kwaadwillige brandstigting, grondeienaars wat nie toestemming het om te brand nie, jagters wat ’n veldbrand veroorsaak om met honde te jag en asgate wat gebrand word.