AfriForum waarsku inwoners van Frankfort om nie besmette water te drink nie
AfriForum het vandag uitslae ontvang wat bevestig dat die water in Frankfort nie geskik is vir menslike gebruik nie. Die toetse het gewys dat daar hoë vlakke E.coli asook fekale koliform in die water is. AfriForum het op 9 Maart watermonsters geneem by twee waterpunte in die Mafube-distrik en dit by ’n SANAS geakkrediteerde laboratorium in Bloemfontein laat toets.
Die water is getoets ná inwoners van Frankfort dit onder AfriForum se aandag gebring het dat die dorp eers geen watertoevoer gehad het nie en nadat die toevoer tydelik herstel is het die water ’n onnatuurlike kleur en reuk gehad.
AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, Chris Morgan het die watermonsters geneem, een van die waterpunte is die Residentia Wilgerus Senior-leefstylsentrum. “Dit is ’n basiese mensereg om toegang tot skoon en drinkbare water te hê. Die uitslae van hierdie toetse wys net weereens dat die Mafube Plaaslike Munisipaliteit nie hul plig nakom nie en dus die inwoners van Frankfort se gesondheid ook nou in gevaar stel,” sê Morgan.
Morgan waarsku dat die inwoners nie kraanwater moet drink of op enige ander manier moet inneem tot die probleem opgelos is nie. “Indien die munisipaliteit nie binne 24 uur aandag aan hierdie kwessie gee nie sal AfriForum verdere stappe neem teen die munisipaliteit.”
Die Mafube Plaaslike Munisipaliteit het ook op 28 Februarie 2022 vir ’n tweede keer in die Vrystaatse Hooggeregshof in Bloemfontein verloor nadat hulle geappelleer het teen ’n dringende interdik wat AfriForum in Julie 2021 teen hulle gekry het om die rioolinfrastruktuur van Frankfort in stand te hou. Die munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl is met koste van die hand gewys.
“Hierdie voorval is net nog ’n bewys van die algemene munisipale verval wat die Vrystaat tans beleef. AfriForum gaan die huidige water probleem in samewerking met Mafube Besigheidsforum monitor en aanhou om druk te plaas op die regering totdat daar ’n oplossing gevind word,” sê Lambert de Klerk, bestuurder van omgewingsake by AfriForum.
AfriForum moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak by AfriForum om sodoende druk op die regering te plaas om hulle verpligtinge teenoor die gemeenskap asook hulle grondwetlike pligte na te kom. SMS “Frankfort” na 45344 (R1) om aan te sluit.