AfriForum waarsku Gesondheidsdepartement: Daar is tans geen gronde om NGV-regulasies te publiseer nie
AfriForum waarsku dat daar verskeie redes is waarom regulasies ingevolge die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) nie nou al (indien ooit) gepubliseer behoort te word nie. Dit sluit in dat die wet nog nie deur die president gepromulgeer is nie; dat die minister van Gesondheid onderneem het om eers verdere insette van die publiek in te win; dat die grondwetlikheid van NGV tans deur die howe ondersoek word; en dat verskeie ander wette eers gewysig moet word alvorens NGV geïmplementeer kan word.
Die burgerregteorganisasie se waarskuwing volg op terugvoer van die Gesondheidsdepartement se hoof van NGV, dr. Nicholas Crisp, aan die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) dat voorlopige regulasies vir die NGV-wet na verwagting binne die volgende maand gepubliseer sal word. AfriForum wys daarop dat die publikasie voortydig sal wees en dat die Gesondheidsdepartement ander sake het wat nou prioriteit moet geniet.
Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, hou die departement hom doof vir alle aanduidings dat NGV ongrondwetlik, onwerkbaar en ongevraagd is. “Dit is niks anders as die volgende stap om ANC-beleid te stoomroller in die gesondheidsektor nie. Hierdie voortydige regulasies sal buitendien ongedaan gemaak word as NGV ongrondwetlik verklaar word.”
Daar is reeds twee hofaansoeke teen NGV gebring, met nog wat sal volg. Die minister van Gesondheid het ook aangekondig dat hy ’n toer sal onderneem om insette van die publiek te kry oor hul behoeftes rakende NGV. Intussen is die enigste staande wetgewing die Wet op NGV wat op 15 Mei vanjaar bekragtig is, maar nog nie gepromulgeer is nie. “Nou wil die Gesondheidsdepartement al hierdie hangende sake ignoreer en aangaan met regulering, asof daar geen kommer oor NGV is nie,” verduidelik Boshoff.
AfriForum het deurentyd kritiek gelewer op die voorgenome NGV-stelsel en beoog om ’n dagvaarding uit te reik teen die regering vir die skade wat NGV aan die Suid-Afrikaanse gesondheidstelsel kan aanrig. Ander probleme met NGV sluit in dat dit dokters sal ontmoedig om in Suid-Afrika te praktiseer, dat dit belastingkoerse hemelhoog sal dryf en dat die NGV-fonds ’n bron van korrupsie kan word.
“Daar is talle uitdagings binne die huidige gesondheidstelsel wat eers die hoof gebied moet word, voordat die Gesondheidsdepartement hom kan bemoei met NGV-drome.”