AfriForum waarsku by VN teen rampspoedige gevolge van verengelsing weens wetgewing soos Bela
AfriForum woon sedert gister die sewentiende sitting van die Verenigde Nasies (VN) se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in Genève, Switserland, by om steun te werf teen die vernietigende gevolge van wetgewing wat oorvol skole en verengelsing moontlik maak, soos wat die nou aangepaste toelatings- en taalbeleidbepalings van die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys 32 van 2024 (die Bela-wet) sou inhou. Hierdie stap is deel van die organisasie se internasionale veldtog vir die bevordering van moedertaalonderrig.
Volgens Alana Bailey, wat die VN-byeenkoms in haar hoedanigheid as AfriForum se hoof van Kultuursake bywoon, het sy AfriForum ook in 2019 by beide dié forum se Afrika-streeks- en internasionale byeenkomste verteenwoordig, waar pertinent op onderwys, taal en die menseregte van minderhede gefokus is. In die verslag hieroor wat die spesiale rapporteur in 2020 aan die VN se Menseregteraad voorgelê het, is onder meer beklemtoon dat:
- regerings die reg van alle gemeenskappe om onderrig van en in hulle onderskeie tale te ontvang, moet beskerm;
- regerings bewusmaking moet doen oor die belangrikheid van moedertaalonderrig as deel van die beskerming en ontwikkeling van gemeenskappe se eie unieke identiteite en kulture;
- regerings moet sorg dat taaleie onderrig geskied sonder dat leerders gestigmatiseer word, of haatspraak of diskriminasie teen hulle gepleeg word;
- geen beperkings op enige vlak op moedertaalonderrig geplaas mag word nie;
- die uitfasering of beperking van ’n minderheidstaal nie gebruik mag word as vorm van gedwonge assimilasie van minderhede nie;
- getalle-oorwegings nie gebruik mag word as verskoning vir die erodering van moedertaalonderrig nie, maar dat daar eerder proaktief gewerk moet word aan die bevordering van alle tale om die vraag en aanbod uit te brei;
- befondsing vir die onderrig van en in minderheidstale voorsien moet word – ook selfs in privaat of onafhanklike instellings;
- leerders se toegang tot hulle minderheidsmoedertale verseker moet word met onder meer vervoervoorsiening in landelike gebiede, die werwing van voldoende onderwysers en eksaminering in eie tale; en
- daar gesorg moet word dat die onderrig van en in minderheidsmoedertale ook die gebruik van die jongste onderrigmetodes en tegnologie insluit.
Bailey het in haar voorlegging tydens gister se sitting beklemtoon dat die politieke wil om moedertaalonderrig volhoubaar te bevorder, by Suid-Afrikaanse owerhede ontbreek.
“Die negatiewe gevolge van wetgewing soos Bela kan vernietigend vir Afrikaanse gemeenskappe wees, maar sal op die lange duur ewe nadelige gevolge vir die taalgemeenskappe en sosio-ekonomiese groei van suidelike Afrika as geheel inhou. Dit is daarom noodsaaklik om die risiko wat dit inhou onder die internasionale gemeenskap se aandag te bring sodat hulle ook druk op die Suid-Afrikaanse regering kan toepas om erns te maak met moedertaalonderrig,” sê sy. Verskeie taalregteaktiviste van elders uit Afrika het Bailey genader en die behoefte aan samewerking uitgespreek. “Ons sien uit daarna om ’n wyer netwerk van instellings wat gehalteonderrig in moedertale voorstaan, te skep,” voeg sy by.
Intussen het die Suid-Afrikaanse regeringsverteenwoordiger by die forum gister ontken dat skole in Suid-Afrika oorvol en disfunksioneel is en die gebrek aan moedertaalonderrig verswyg, maar aangesien vele internasionale onderwyskundiges die sitting bywoon, is hulle nie deur dié diplomatiese repliek geflous nie.