AfriForum vra vir behoorlike publieke deelname


Die burgerregtewaghond AfriForum se Springbok-tak het gister ’n brief op Samantha Titus, die munisipale bestuurder van die Nama Khoi Plaaslike Munisipaliteit, beteken waarin vereis word dat ’n kennisgewing van ’n aansoek om dorpstigting (wat op 1 September 2017 in die koerant, Die Plattelander, verskyn het) onttrek word en van nuuts af geplaas word.
AfriForum het D.C. Magerman, die betrokke afdelingshoof van grondgebruike, genader om waardevolle kommentaar op die aansoek te lewer, maar is meegedeel dat die aansoek nie die munisipaliteit se perseel mag verlaat nie en afskrifte van die volle aansoek nie verskaf mag word nie. Verder word daar nie voldoen aan die minimum gestelde kennisgewingtydperk van 30 dae vir die publiek om kommentaar te lewer nie. AfriForum is van mening dat die kennisgewing op grondslag gebrekkig is en die proses nie deursigtig is nie.

“Dit is teenstrydig met die vereistes van deursigtigheid en publieke deelname wat twee van die belangrikste grondwetlike burgerregte is,” sê Johandré van Zyl, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap.

AfriForum vereis dat die volle aansoek aan die publiek beskikbaar gestel word.

Soortgelyke plasings