AfriForum vra duidelikheid oor ontplooiing van 10 000-veldwerkers vir COVID-19
Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n skrywe aan dr. Zweli Mkhize, Minister van Gesondheid, gerig om meer besonderhede oor die ontplooiing van 10 000-COVID-19-veldwerkers te bekom. Pres. Cyril Ramaphosa het onlangs aangekondig dat dié werkers mense vir die virus sal toets.
Dr. Eugene Brink, gesondheidswoordvoerder by AfriForum, sê die organisasie steun die huidige inperkingsmaatreëls en moedig die publiek aan om dit na te kom. Die organisasie is egter bekommerd dat misdadigers hulle as COVID-19-veldwerkers kan voordoen en mense beroof. “Duidelikheid is dus nodig oor onder meer hoe veldwerkers hulself gaan identifiseer, hoe lank dit gaan neem om die werk af te handel, wat sowel burgers as die werkers se presiese regte is en ook in watter geografiese gebiede die werkers ontplooi sal word. Die werkers moet byvoorbeeld ’n duidelike vorm van identifikasie by hulle hê.”
Volgens Brink was daar reeds onlangs slenters waar booswigte hulself as Netcare-personeel voorgedoen het. “Hulle wil dan toegang tot jou eiendom bekom en jou beroof of ander leed aandoen. Hoewel die president nou hierdie aankondiging gemaak en die reëls verander het, kan ’n gebrek aan besonderhede steeds uitgebuit word.
“Ons vra dus dat hulle so gou moontlik antwoorde op ons vrae verskaf aangesien voldoende inligting sal help dat die publiek weet wat hulle te doen staan, die toetsing vir die regering makliker maak en enige pogings om dit uit te buit, sal hokslaan,” sluit Brink af.