AfriForum vra CoGTA om Pongola-padwerke te ondersoek


AfriForum se Pongola-tak het ’n versoek aan die departement vir samewerkende regering en tradisionele sake (CoGTA) gestuur om ’n ondersoek te loods na die tenderproses en die kontrakte wat met die herstel van Martin- en Piet Retiefstraat in dié dorp verband hou. Dít volg nadat die tak die uPhongola Plaaslike Munisipaliteit onlangs versoek het om ’n aksieplan te voorsien van hoe dié strate herstel sou word, maar die munisipaliteit geweier het om aan die versoek te voldoen.
Die projek moes glo reeds in Mei voltooi gewees het, maar die subkontrakteur het weens niebetaling aan die projek onttrek. Plaaslike besighede lei gevolglik geweldige verliese omdat die pad na en van hul besighede grootliks ontoeganklik is.

“Die onvoltooide strate is besig om verder te verspoel en raak by die dag gevaarliker. Ons is bekommerd oor inwoners en motoriste se veiligheid,” sê Marilda Schoombee, ’n takbestuurslid van AfriForum se Pongola-tak.
“Ons sien gereeld hoe kontrakte aan vriende van amptenare of aan onbevoegde persone toegeken word en dan moet daar van subkontrakteurs gebruik gemaak word. Dit lei daartoe dat munisipale infrastruktuurbefondsing onder druk geplaas en geleentheid vir korrupsie op dié wyse geskep word,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder van KwaZulu-Natal.

Raak by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS jou naam na 45267 (R1).

Soortgelyke plasings