AfriForum verwyder 2 000 asblikke se vullis in Moreletapark
Te danke aan die AfriForum-tak in Moreletapark is hierdie Pretoriase voorstad nou baie skoner en meer higiënies as net ’n paar ure gelede. Hierdie plaaslike tak het inisiatief geneem en ’n privaat vullisverwyderingsmaatskappy aangestel om op Saterdag 9 September verligting in gebiede te bring waar vullis sowat vier weke laas verwyder is. ’n Totaal van 2 000 asblikke se vullis is binne sewe ure in Moreletapark verwyder.
“AfriForum verstaan dat die huidige onwettige staking net nóg meer druk op die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit plaas om dienste in hierdie metro te lewer. Dit is wel binne ons plaaslike tak se vermoë om hierdie verligting en hulp aan die gemeenskap te bied,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.
“Dit is egter net ’n tydelike oplossing. Alle AfriForum-strukture in die Tshwane-metro sal poog om oplossings binne hul vermoë te vind om saam met rolspelers te werk om te verseker dat ons gemeenskappe nie agteruitgaan as gevolg van onwettighede nie.”
AfriForum moedig gemeenskapslede in Moreletapark aan om by hul plaaslike organisasies en strukture betrokke te raak om te verseker dat hierdie voorstad nog lank ’n pragbuuurt bly.
“AfriForum sal alle moontlike roetes volg om te verseker dat inwoners van die Tshwane-metro die dienste ontvang wat hul toekom. Waar moontlik sal AfriForum ook self inspring om die gemeenskap te help,” sluit Steinberg af.
Klik hier om vandag nog by AfriForum se Moreletapark-tak betrokke te raak.