AfriForum verwelkom uitstel van chaotiese BELA openbare raadplegingsessies – vra dat konsep geskrap en skolewetgewing herbedink word
Die openbare raadplegingsessies waar die publiek mondelinge insette oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-wet) kon gaan lewer, is tot verdere kennisgewing uitgestel. Die kennisgewing in dié verband is deur die sekretaris van die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Basiese Onderrig aan enkele belanghebbendes gestuur.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, word die aankondiging verwelkom. “Die proses was van meet af aan problematies. Die eerste kennisgewing dat hierdie proses ’n aanvang neem, is in dieselfde week in Februarie 2023 geplaas wat die eerste verhore al plaasgevind het. Datums, tye en lokale is op kort kennisgewing bekendgemaak en gewysig. Die afgelope Sondag was verteenwoordigers van AfriForum reeds by die lokaal, toe hulle in kennis gestel is dat die byeenkoms afgestel is. Hierdie konstante onsekerheid oor die besonderhede van sessies het tot gevolg dat mense al minder gewillig is om aan die proses deel te neem, wat presies die teenoorgestelde is as wat die sessies veronderstel is om te bereik.”
Bailey noem dat daar ook ander probleme opgeduik het, soos skrywes van onsekere oorsprong wat gesirkuleer is en voorgegee het dat net sekere persone aan die sessies mag deelneem. “Nog ’n probleem was die tyd wat toegelaat is. Die belangstelling was groot, maar van die terugvoer wat ons ontvang het, is dat mense se insette tot drie of selfs een minuut beperk is om by die tyd van die sessies te hou. Om in drie minute iets sinvol te sê, is bitter moeilik, wat nog van in een minuut,” voeg Bailey by.
In die lig van die teenstand wat die konsepwet reeds met skriftelike insette en parlementêre voorleggings gekry het, glo AfriForum dit sal beter wees om die konsep te skrap en van voor af oor die hersiening van die bestaande skolewetgewing te besin. Bailey noem dat die onderwysveld die afgelope jare ingrypend verander het danksy nuwe leerpatrone wat tydens die COVID-19-inperkings gevestig is, tegnologie wat daarmee saam ontwikkel het en kwessies soos taalregte waaroor daar meer insig ontstaan. “Dit is nou tyd om weer nuut oor skolewetgewing te dink en met nuwe voorstelle vorendag te kom, eerder as om verder tyd en koste aan hierdie lomp, ongrondwetlike, verouderde konsepwet te wy,” sluit Bailey af.