|

AfriForum verwelkom reuseboete vir waterbesoedeling in Dipaleseng-munisipaliteit, maar …

AfriForum verwelkom die R160 miljoen-boete wat die Dipaleseng Plaaslike Munisipaliteit Vrydag weens jare lange waterbesoedeling in dié gebied opgelê is, maar hou vol dat amptenare eerder in hul persoonlike hoedanigheid verantwoordelik gehou moet word vir hul gruwelike nalatigheid. AfriForum voer aan dat die waterkrisis wat tans op ’n nasionale vlak ondervind word, selfs tronkstraf van die betrokke amptenare regverdig.

Die Dipaleseng Plaaslike Munisipaliteit is daarvan aangekla dat hy vanaf Desember 2018 tot Augustus 2023 onverwerkte riool gestort het en derhalwe die Nasionale Omgewingswet en die Nasionale Waterwet oortree het. Balfour en Greylingstad is die grootste dorpe in dié plaaslike munisipaliteit.

Volgens Lambert de Klerk, hoof van Omgewingsake by AfriForum, is dit noodsaaklik dat waterbesoedeling met die nodige erns hanteer word juis omdat Suid-Afrika ’n waterskaars land is en dié kosbare hulpbron jaloers bewaar moet word. In die lig daarvan is die swaar straf wat die Balfour-landdroshof aan Dipaleseng opgelê het, ’n oorwinning.

“In hierdie geval kom dit egter neer op ’n dubbele straf vir die belastingbetalers en inwoners van die betrokke munisipaliteit. Eers was inwoners opgeskeep met onveilige water en nou gaan die einste inwoners indirek opdok om die boete te betaal. Die vervolging van amptenare wat vir die besoedeling verantwoordelik was, moet prioriteit geniet. Dit sal amptenare tot verantwoording bring en toesien dat uitnemendheid in die belang van inwoners nagestreef word,” verduidelik De Klerk. 

Soortgelyke plasings