AfriForum verwelkom opheffing van verbod op kosverkope deur gekeurde verkopers by skole
AfriForum verwelkom die aankondiging van die Gautengse departement van Onderwys dat kosverkopers en snoepies op skoolterreine, wat aan alle wetlike vereistes voldoen, weer kos aan leerders mag verkoop. Die verbod op verkope, wat nou opgehef is, het gevolg ná die onlangse vlaag gevalle waar leerders siek geword en sommige selfs gesterf het nadat hulle kos by verkopers gekoop het wat nie aan die nodige vereistes gehoor gegee het nie.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, stem die burgerregteorganisasie saam dat stappe om meer gevalle en sterftes te voorkom, noodsaaklik is, maar die verbod op verkopers en snoepies op skoolterreine wat alle regulasies en vereistes nakom, was veels te drasties en het leerders eintlik aan groter gevaar blootgestel. Voedingskemas by van die skole waarmee AfriForum kontak het, moes gestaak word en het kinders sonder voedselhulp gelaat. In ander gevalle het kinders in skooltyd uitgeglip om juis by ongeverifieerde verkopers snoepgoed te kry.
AfriForum het die Gautengse Onderwysdepartement dus verlede week in ’n dringende skrywe versoek om gemagtigde verkopers, wat kan bewys dat hulle aan alle voorskrifte beantwoord, toe te laat om die verkoop van voedsel te hervat. “Ons beskou die opheffing van die verbod as goeie nuus vir alle betrokkenes, maar veral vir diegene wat die welstand en veiligheid van hulle kliënte voorop stel,” sê Bailey.
Verder verwelkom AfriForum ook dat die inspeksie van verkopers en spazawinkels nou geprioritiseer word en hoop dat dit ’n einde aan die tragiese gebeure van die afgelope tyd sal bring.