AfriForum verwelkom Konstitusionele Hof-beslissing in Hoërskool Overvaal-saak


AfriForum verwelkom die Konstitusionele Hof se beslissing in die saak tussen die Gautengse onderwysdepartement en die Hoërskool Overvaal se beheerliggaam, naamlik dat die onderwysdepartement se aansoek om appèl met koste verwerp word.
Dié uitspraak volg nadat die Noord-Gautengse hoë hof in Januarie vanjaar beslis het dat die skool ’n enkelmedium Afrikaanse skool mag bly, nadat die onderwysdepartement dit probeer dwing het om parallelmedium onderrig aan te bied, deur leerlinge te aanvaar wat in Engels onderrig wou word. Dié dwang is toegepas ten spyte daarvan dat die skool vol was en reeds Afrikaanssprekende leerlinge moes wegwys. Die Konstitusionele Hof-uitspraak berus daarop dat die departement nie voldoende oorweging aan die beskikbare kapasiteit van twee naburige enkelmedium- Engelse skole, Phoenix High School en General Smuts High School, gegee het nie.
Volgens Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys, bevestig die uitspraak die reg van skole se beheerliggame om oor kwessies soos die skool se taalbeleid te beslis, asook die bestaansreg van enkelmedium Afrikaanse skole.

“AfriForum hoop dat hierdie beslissing Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir Onderwys, sal verhoed om Afrikaanse skole verder te teiken.”

Bloem voeg by dat die uitspraak beklemtoon hoe belangrik dit is dat ouers vir wie Afrikaanse onderrig van belang is, moet sorg dra dat Afrikaanse skole vol is en dat hulle by beheerliggame se werksaamhede betrokke raak om die toekoms van Afrikaanse onderwys te verseker.

“Lesufi het van die saak ’n rassegeskil probeer maak, terwyl die skool veelrassig is. Die hof het ’n belangrike uitspraak gelewer ten gunste van Afrikaans, maar ook ten gunste van taalregte oor die algemeen. Ons hoop dit sal die voortdurende aanslag teen Afrikaanse skole vir eens en vir altyd beëindig,” sluit Bloem af.

Soortgelyke plasings