AfriForum versoek redes vir Nersa-besluit om 9,4%-verhoging toe te staan
AfriForum veroordeel die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se besluit om ’n tariefverhoging van 9,4% vir die 2019/2020 finansiële jaar toe te staan en gaan redes van Nersa versoek vir hierdie verhoging wat ver bo inflasie is. Eskom het aansoek gedoen vir ’n verhoging van 17%. Die burgerregte-organisasie is van mening dat jaarlikse tariefverhogings soos hierdie onvolhoubaar is en dat Eskom se staatsgewaarborgde monopolie op elektrisiteitsvoorsiening uiters ongesond vir die land, sy mense en die ekonomie is.
Verder het Nersa ’n bedrag van R3,869 miljard toegestaan vir die regulatoriese aansuiweringsrekening (RAR) (Engels: Regulatory Clearing Account) nadat Eskom vir R22 miljard gevra het.
AfriForum het hierdie tariefverhoging uit die staanspoor teengestaan deur skriftelike kommentaar aan Nersa te lewer. Die burgerregte-organisasie se bydrae tot die openbaredeelnameproses was ’n voorlegging wat aanvoer dat die koste van Eskom se beweerde korrupte aktiwiteite en wanadministrasie by die berekening van die verhoging in die komende jaar se elektrisiteitstarief uitgesluit moet word.
Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, sê dat Eskom nie kon bewys dat hulle groter verhogings verdien nie. “Die regering gebruik Eskom se alleenheerskappy as hefboom om die publiek en die sakesektor gyselaar te hou, wat met beste praktyke elders ter wêreld strydig is. Eskom se dominante posisie – dit verskaf 95% van die land se elektrisiteit – laat die organisasie ook toe om voortdurend aansoek te doen om buitensporige verhogings in kragtariewe. Die swak bestuurstyl en die feit dat verantwoordelike amptenare nie aanspreeklik gehou word vir wanadministrasie en korrupsie nie, is grotendeels wat die probleem by Eskom veroorsaak.”
“Eskom se wanbestuur rondom munisipale skuld was ’n groot besprekingspunt tydens die openbaredeelnameproses. Indien Eskom nie die bestuur van munisipale kragrekeninge kan hanteer nie, moet Nersa strenger teen partye optree wat lisensievoorwaardes verbreek. Suid-Afrika het ’n meer gedesentraliseerde kragsektor nodig. Eskom moet verkieslik geprivatiseer word, maar selfs indien dit in staatsbesit bly, moet dit uiteindelik slegs een van vele kragvoorsieners wees. Dit moet, nes talle ander firmas in verskeie ander sektore, aan markkragte blootgestel word sodat verbruikers uiteindelik meer en beter keuses kan hê. Dít sal Eskom dwing om vermorsing en korrupsie uit te skakel om sodoende beter mee te ding, of die risiko te loop om onder te gaan,” sê Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslikeregeringsake.