AfriForum versoek minister om ook provinsiale deurvloeipersentasies van gr. 10 na gr. 12 bekend te maak
In aansluiting by AfriForum se kommentaar oor die kommerwekkende uitvalkoers van leerders voordat hulle matriek bereik, het dié organisasie ’n skrywe aan die minister van Basiese Onderwys gerig om te versoek dat die departement ook die persentasie van leerders per provinsie wat skool verlaat het tussen gr. 10 en gr. 12 voor die aanvang van die matriekeksamen, saam met die matriekuitslae bekend te maak.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is dit goed en wel om die matriekslaagsyfers van provinsies met mekaar te vergelyk, maar wanneer dit die deurvloeikoers uitsluit, skep dit nie ’n getroue prentjie van die werklike prestasie van provinsies nie. Dit het ook tot gevolg dat die publiek nie duidelikheid het oor watter provinsies steeds ernstige onderwysprobleme ervaar nie.
“Die amptelike aankondigings van die slaagsyfers gisteraand, het groot gewag gemaak van die verskil tussen die departement se definisie van die matriekslaagsyfer en die deurvloeikoers. Die werklikheid is egter dat elke leerder wat nie na behore geskool is nie, ’n duister toekoms in die gesig staar. Suid-Afrika het reeds met ’n onaanvaarbare hoë jeugwerkloosheidsyfer te kampe. Verder vergelyk die gehalte van die land se onderwys nie met dié van ander lande as daar na die bevindings van die mees onlangse Progress in International Reading Literacy Study (Pirls) en die 2024 Trends in International Mathematics and Science Study (Timss) gekyk word nie. Dat ’n 64% -deurvloeikoers dus vir die departement gerusstellend vergelykbaar met ander lande is, is besonder kommerwekkend,” meen Bailey.
“Die land se ekonomiese groei en maatskaplike stabiliteit hang af van beide die matriekslaagsyfer én die deurvloeikoers. Aankondigings wat die nasionale en provinsiale persentasies van beide saam aanbied, gaan veel meer duidelikheid skep oor die uitdagings wat ons op onderwysgebied in die gesig staar.”