AfriForum versnel uitbreiding van veiligheidsnetwerke ná skerp toename in plaasmoorde

AfriForum se syfers toon dat 76 plaasaanvalle in die tweede kwartaal van 2023 plaasgevind het. Dié organisasie se gemeenskapsveiligheidafdeling het hierdie syfers van April tot Junie 2023 geverifieer.

Wanneer die statistiek van die tweede kwartaal vergelyk word met die eerste kwartaal van 2023, kan gesien word dat daar ’n skrikwekkende toename is in die aantal moorde wat plaasgevind het. AfriForum se gemeenskapsveiligheidafdeling het met die vrystelling van die eerste kwartaal se syfers gewaarsku dat indien misdadigers nie vasgestrek word nie, ’n moontlike styging kan plaasvind.

“Hoewel die aantal aanvalle vir die eerste en tweede kwartaal min of meer dieselfde is, het moorde met 167% gestyg – van nege in die eerste kwartaal tot 24 in die tweede kwartaal,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

“Van al die tweede kwartale oor die afgelope vyf jaar (sedert 2019), het die tweede kwartaal van 2023 die meeste aantal moorde aangeteken,” sê Johan Nortjé, ’n navorser by AfriForum.

Die databasis van AfriForum se gemeenskapsveiligheidafdeling toon ook aan dat daar in net 15 van die 76 plaasaanvalle wat vir die tweede kwartaal aangeteken is, verdagtes in hegtenis geneem is. Daar was voorts ’n gemiddeld van 5,85 insidente per week.

Volgens Broodryk sal AfriForum aanhou om sy veiligheidsnetwerke uit te brei.

“Ons het reeds 168 buurt- en plaaswagstrukture landswyd met sowat 11 000 opgeleide vrywilligers wat help om hul gemeenskappe te beveilig. Ons het net verlede week weer gesien hoe AfriForum se protospan in Brits vier plaasaanvallers binne ’n uur en ’n half ná die aanval vasgetrek het. Hoe meer mense betrokke raak, hoe meer doeltreffend gaan hierdie netwerke word,” sluit Broodryk af.

Klik hier om by jou naaste AfriForum plaas- of buurtwag aan te sluit.