| |

AfriForum verskerp fokus op vullisterreine

AfriForum het vandag sy nasionale vullisterreinouditprojek van stapel gestuur waartydens vullisterreine geoudit sal word waar AfriForum gevestigde strukture het. Die organisasie het terselfdertyd ook kommentaar op die konsep vir die nasionale afvalbestuurstrategie ingedien. Die minister van omgewingsake het dié konsep op 3 Desember 2019 in die Staatskoerant No. 42879 gepubliseer.

AfriForum doen hierdie oudits aan die hand van die minimum vereistes waaraan ’n vullisterrein ingevolge wetgewing moet voldoen. Dié projek word reeds sedert 2014 gedryf met die doel om boek te hou van die manier waarop vullis bestuur word en om owerhede tot verantwoording te roep in gevalle waar vullis swak bestuur word.

AfriForum gaan poog om oor die volgende vier weke 130 vullisterreine te oudit in die gebiede waar daar gevestigde AfriForum-takke is. Die uitslae gaan dan in ’n verslag opgeneem word wat aan Barbara Creecy, minister van omgewingsake, oorhandig sal word. “Ons is dankbaar vir die departement van omgewingsake se samewerking in hierdie verband, en AfriForum gaan poog om na afloop van die oudits van die swaks presterende vullisterreine saam met die departement te takel en op te knap,” sê Lambert de Klerk, bestuurder van omgewingsake by AfriForum.

Die kommentaar wat vandag ingedien is, volg nadat die departement openbare kommentaar op die konsep van die nasionale afvalbestuurstrategie versoek het.

AfriForum ondersteun die algemene doel van die voorgestelde strategie soos dit uiteengesit is, maar voel dat die identifisering en behoorlike hantering van die werklike oorsake van die probleme wat in die konsepstrategie uitgelig word, sal help om die strategie te verbeter.

“Die konsep vir die nasionale afvalbestuurstrategie is ’n goeie ding. Dit is egter baie belangrik dat organisasies en belanghebbendes aan die kommentaarproses deelneem sodat wetgewing en strategieë nie bloot om politieke redes verander word nie,” sê De Klerk.