|

AfriForum veroordeel plaasmoorde deur aan Roedtan-optog deel te neem

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n optog ter veroordeling van plaasmoorde ondersteun wat in Roedtan, Limpopo, deur die Distrikslandbou-unie in Potgietersrus, gehou is. Verteenwoordigers en lede van AfriForum het die optog in samewerking met ander prominente organisasies bygewoon.  

Die beskuldigdes het in die rondgaande hof in Roedtan op aanklagtes van die moord op die boer Nicky Janse van Rensburg, sowel as huisroof verskyn. Veronica Grobler en ’n minderjarige seun was ook aanwesig tydens die voorval wat op 7 Oktober 2022 plaasgevind het. Deelnemers aan die optog het die dorp met plakkate en kruise binnegaan met ’n duidelike boodskap – plaasmoorde moet stop.

“Plaasmoorde- en aanvalle is ’n unieke vorm van misdaad wat tot onbeskryflike trauma lei en gemeenskappe vernietig. Dit is belangrik dat die media in Suid-Afrika, sowel as in die buiteland, kennis van hierdie gruwelike fenomeen neem. Vandag se optog onderstreep die tragiese krisis van plaasmoorde, maar skep ook hoop dat plaasgemeenskappe hande kan vat om hulself te beveilig,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.