|

AfriForum veroordeel ondermyning van beheerliggaam en wyer politieke inmenging in skole

AfriForum beskou die aankondiging van die Gautengse onderwysdepartement dat dit ’n onafhanklike ondersoek by Pretoria High School for Girls gaan loods om vas te stel of daar “’n kultuur van rassisme” by die skool heers, as ’n opsigtelike poging om die gesag van die skool se beheerliggaam te ondermyn.

Die skool, personeel en leerders is die afgelope tyd in die spervuur ná bewerings oor rassisme daar kop uitgesteek het. Leerders wat beskuldig is, is tydens ’n dissiplinêre verhoor onskuldig bevind, waarna Gauteng se LUR van Onderwys, Matome Chiloane, hierdie ondersoek aangekondig het.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, het hierdie gebeure opnuut bewys dat sommige onderwysowerhede ’n agenda teen beheerliggame het. “Terwyl die BELA-konsepwet nog voor die president dien, word insidente soos hierdie opgeblaas om die indruk te skep dat demokraties verkose beheerliggame vyande van gehalte onderrig en die regte van leerders is,” meen sy. “Wat dit nog erger maak, is dat die gebeure afspeel in ’n tyd waar matrikulante vir hulle eksamens voorberei en reeds aan uitermatige druk blootgestel is.”

AfriForum veroordeel enige politieke inmenging in skole en pogings om regmatige optrede deur beheerliggame te diskrediteer. “Buiten vir hierdie insident, verneem ons al meer van beheerliggame wat deur provinsiale onderwysowerhede onder druk geplaas word om Afrikaanse skole se taalbeleid te verander. Verder bou die owerhede nie voldoende skole nie en word die beheerliggame onregverdig deur ouers geblameer wanneer kinders nie plek in skole kry nie. Departemente neem ook lank om klagtes van beheerliggame te ondersoek,” sê Bailey.

“In plaas daarvan om hierdie gemeenskapsverteenwoordigers soos gewaardeerde vennote te behandel, word hulle dikwels die sondebokke van die onderwysdepartemente se mislukkings gemaak. Met die opstel van die BELA-konsepwet is hierdie vyandigheid al duidelik gemaak, en insidente soos dié by die meisieskool maak die agenda net nog meer sigbaar. Die misbruik van leerders as politieke speelballe in owerhede se magsugtige optrede en strewes is onaanvaarbaar,” beklemtoon Bailey.

Soortgelyke plasings