AfriForum verkla Tokologo Plaaslike Munisipaliteit oor weerhouding van inligting
AfriForum het ’n klag teen die Tokologo Plaaslike Munisipaliteit by die Inligtingsreguleerder (IR) aanhangig gemaak oor dié plaaslike munisipaliteit se weerhouding van inligting. Dit volg nadat AfriForum vroeër vanjaar ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) gebring het om die munisipaliteit te verplig om inligting te lewer rakende onder meer die kontrak tussen die munisipaliteit en Ideal Prepaid. Laasgenoemde is die maatskappy verantwoordelik vir die koopkragmeters in dié plaaslike munisipaliteit.
AfriForum het as deel van sy PAIA-aansoek ook finansiële inligting aangevra. Dié burgerregteorganisasie poog om hiermee onder meer vas te stel hoeveel geld maandeliks deur inwoners aan die Tokologo Plaaslike Munisipaliteit oorbetaal word vir die aankoop van krag by Ideal Prepaid.
Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die Sentraalstreek, het AfriForum al die regte prosesse gevolg om die inligting te bekom, maar het tot dusver geen terugvoer van die Tokologo Plaaslike Munisipaliteit ontvang nie. “Ons het oorspronklik die versoek in ’n brief aan die munisipale bestuurder uiteengesit. Geen terugvoer is hierop ontvang nie, waarna besluit is om die PAIA-proses te volg. Ons het daarna ook ’n interne appèlproses van stapel gestuur, maar daarvan het dadels gekom. Die inligting wat ons aanvra is nie staatsgeheime nie en die publiek het die reg om toegang daartoe te kry,” sê Grobbelaar.
Volgens Grobbelaar is die doel van die PAIA-aansoek uiteindelik om te bepaal by wie die verantwoordelikheid vir die betaling van dié plaaslike munisipaliteit se Eskom-rekening berus.
“Inwoners van die dorp betaal maandeliks hul elektrisiteit deur die voorafbetaalde kragsisteem wat deur Ideal Prepaid beheer word, maar die munisipaliteit se skuld by Eskom word net al hoe groter. Daarom is dit vir AfriForum en die gemeenskap belangrik om te weet wie werklik verantwoordelik is vir die betaling van die Eskom-skuld. Op die oomblik is die publiek in die duister. Die munisipaliteit se skuld word elke maand net meer en meer, wat duidelik daarop neerkom dat hulle nie al die geld wat deur middel van elektrisiteitaankope inkom, aan Eskom oorbetaal nie. Daarom soek ons die inligting sodat ons kan vasstel waarheen die geld verdwyn,” verduidelik Grobbelaar.
Die Tokologo Plaaslike Munisipaliteit skuld Eskom reeds nagenoeg R220 miljoen. Volgens Grobbelaar is die munisipaliteit in ’n ernstige finansiële verknorsing en die dringende ingryping is nou nodig om ’n verdere krisis hier af te weer. Intussen word waterpompe in die dorp dikwels deur Eskom afgesit om die munisipaliteit oor die wanbetaling te straf.
“Dit straf egter veel eerder die gemeenskap, want dan moet die inwoners sonder lopende water klaarkom. Kragverbruikers wat maandeliks hul krag vooraf by Ideal Prepaid aankoop, word gestraf vir die onvermoë van die munisipaliteit om sy skuld aan Eskom te betaal. Met die skuld wat boonop ophoop, gaan dit nie lank wees voordat Eskom selfs verdere stappe doen om die krag na die munisipaliteit toe te sny nie. Dit sal die gemeenskap selfs verder benadeel.”