|

AfriForum vergader met lede van Warrenton oor GOP

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 11 Februarie ’n gemeenskapvergadering in Warrenton gehou waartydens die gemeenskap se bekommernisse bespreek is.

Straatligte wat buite werking is, die swak toestand van paaie weens slaggate, en stoptekens wat gesteel word, is van die bekommernisse wat tydens die vergadering bespreek is. Probleme met rioollekke, parke wat nie in stand gehou word nie en die beperkte toegang tot skoon water is ook geopper.

“Die klein dorpies in ons land ly onder munisipale verval. Dit is te verstane dat die gemeenskap moeg is vir leë beloftes en eerder self eienaarskap wil neem om dié verval teen te staan,” sê Lize-Mari van der Linden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

Die gemeenskap het ook meer geleer oor die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) en hoe hulle daartoe kan bydra.

“Die GOP is baie belangrik omdat dit ’n bindende dokument is. Dit beteken dat dit die munisipaliteit verbind tot die projekte wat in die GOP vervat is. Die munisipaliteit is dus verplig om elke projek soos genoem in die GOP aan te pak en gemeenskapslede kan die munisipaliteit daarvoor aanspreeklik hou omdat fondse daarvoor toegewys is,” sê Van der Linden.

Lede wat graag insette wil lewer, is welkom om lize-mari.smit@afriforum.co.za te e-pos.

Soortgelyke plasings