AfriForum verf voetoorgang en stoptekens by Laerskool Eugene Marais


AfriForum se Naboomspruit-tak het die afgelope naweek ’n selfdoenaksie geloods om die voetoorgang en stoptekens by die Laerskool Eugene Marais in Naboomspruit weer duidelik te verf. Dié aksie volg nadat die skool AfriForum se plaaslike tak hieroor genader het.
Die tak het ’n verwer aangestel om die verfwerk te verrig en die verf is deur Baboos Hardeware geborg.
Volgens Phillip van Staden, voorsitter van AfriForum se Naboomspruit-tak, is die aksie ook daarop gemik om die dorp vir die Bokkieweek, wat in Julie daar plaasvind, te help opkikker.

“Ons wil graag hê dat ons dorp mooi moet lyk vir die mense wat tydens Bokkieweek kom besoek aflê. Ons beplan ook om, in samewerking met die plaaslike munisipaliteit, slaggate in die dorp reg te maak en onduidelike padlyne en -tekens oor te verf,” sê hy.

Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo, sê dat die munisipaliteit weereens hul pligte om basiese dienste soos die instandhouding van paaie, lyne, en stoptekens te lewer, versuim het.

“Daar waar ons kan, sal AfriForum help om die werk gedoen te kry deur self in te spring en herstelwerk te verrig. Ons werk graag saam met die plaaslike munisipaliteit om toe te sien dat die inwoners van Naboomspruit veilig op die dorp se paaie kan beweeg,” sê Grobbelaar.

Om deel van dié inisiatief te word, kan jy die woord “Slaggate” na 45340 SMS om by jou plaaslike AfriForum-tak aan te sluit.

Soortgelyke plasings