|

AfriForum-veiligheidsnetwerk in Suid-Kaap ontvang gespesialiseerde opleiding

Buurtwagbestuurders van die Eden-veiligheidsnetwerk, oftewel steunkring, wat in Januarie vanjaar op die been gebring is, het die afgelope naweek gespesialiseerde opleiding ontvang om die samewerking wat tussen buurtwagte oor ’n gebied van nagenoeg 12 000 km2 gedoen moet word, te verfyn én te optimaliseer. Dié twee dae lange opleiding is in George aangebied en is bygewoon deur 14 buurtwagbestuurslede afkomstig van George, Oudtshoorn, Mosselbaai en Knysna.

Die buurtwagleier- en operasionele spanleierkursus vorm deel van AfriForum se verskerpte opleidingstrategie en is daarop gemik om buurtwaglede in staat te stel om onder meer veiligheidsituasies doelmatig te beoordeel en enige veiligheidsoperasies wat daaruit kan voortspruit, deeglik te beplan, uit te voer en optimaal te kommunikeer. Aangesien buurt- en plaaswagte oor ’n wydverspreide gebied binne die nuut gevestigde steunkring moet saamwerk, is gespesialiseerde kennis van geïntegreerde veiligheidsoperasies nou noodsaaklik vir die optimalisering van veiligheidsaktiwiteite in dié gebied. Buurtwagbestuurders het tydens die opleiding teoretiese sowel as praktiese opleiding ondergaan en self ook die geleentheid gehad om ’n veiligheidsoperasie te koördineer. 

“Staatsverval het daartoe gelei dat die vereistes wat op Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) geplaas word om ons gemeenskappe te beveilig, ’n onbegonne taak geraak het. Die verantwoordelikheid berus nou op ons as landsburgers om onsself te organiseer om ons polisiediens by te staan in die bekamping van misdaad in ons gemeenskappe,” sê David Olivier, AfriForum se veiligheidshoof vir die Suidstreek.

Intussen is die implementering van AfriForum se steunkringe elders in die land ook goed op dreef.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, is daar, sedert AfriForum sy steunkringstrategie in Januarie aangekondig het, vanjaar reeds agt steunkringe op die been gebring. Vroeër vandeesmaand is ’n steunkring aan die Gautengse Oos-Rand gevestig wat die buurt- en plaaswagte in Benoni, Kempton Park, Springs, Boksburg, Alberton, Edenvale, Germiston en Brakpan saamsnoer. Daarbenewens is nog ’n steunkring verlede week in die Oos-Kaap gestig wat AfriForum se Port Elizabeth-, Uitenhage- en Jeffeysbaai-buurt- en plaaswagte aaneenskakel.

“Met die grootskaalse onrus wat in Julie 2021 losgebars het, het ons gesien hoe doeltreffend georganiseerde gemeenskappe hul gebiede self kon beveilig toe dit nodig geword het. AfriForum se steunkringkonsep sal gemeenskappe nou in staat stel om oor ’n groter gebied selfs meer weerbaar te wees en ook vroegtydige waarskuwings te ontvang oor enige misdaad of ander destabiliserende situasies in hierdie gebiede. Dit sal AfriForum voorts ook in staat stel om die toekenning en aanwending van hulpbronne meer optimaal te doen,” verduidelik Broodryk.   

Sluit vandag nog aan by jou naaste buurtwag om jou gemeenskap te beveilig. Kontak Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, by marthinus.erasmus@afriforum.co.za of 081 216 9602, vir meer inligting.

Soortgelyke plasings