|

AfriForum vandag in België om steun vir droogtehulp te werf

Twee nasionale veldtogkoördineerders van die burgerregte-organisasie AfriForum is vandag in België waar hul ʼn voorlegging gaan doen om steun vir droogtehulp in Suid-Afrika te werf.

Monique Taute, nasionale veldtogkoördineerder, en Henk Maree, nasionale woordvoerder van AfriForum, is sedert verlede week in Europa om organisasies in België, Nederland en Switserland te besoek wat Suid-Afrikaanse boere goedgesind is.

Hul het reeds met die Deputaatskap van die Christelike organisasie Bijzondere Noden, mnr. Walter van Luik, ʼn beleidsmedewerker van die Staatkundig Gereformeerde Partij (SGP) in die Europese parlement, asook met mnr. Diederik van Dijk, ʼn lid van die Eerste kamer van die Nederlandse parlement, vergader.

Volgens Maree het hulle ’n onderneming gekry dat dié organisasies sal kyk of hulle moontlik ʼn bydra kan lewer tot noodleniging vir boere in Suid-Afrika.

Hy vertel dat Nederlanders bewus is van die droogte in die land, maar nie besef in watter krisis dit verder kan ontaard wat voedselsekerheid betref nie. Hy meen verteenwoordigers van organisasies is veral geskok om te hoor hoe min die regering tot dusver gedoen het om boere te help.

Taute en Maree het later vandeesweek ook namens AfriForum ʼn spreekbeurt by ʼn sitting van die Verenigde Nasies.

Dié besoek volg nadat AfriForum reeds vroeër vanjaar aangekondig het dat hy ’n veldtog van stapel gaan stuur wat daarop gemik is om hulp aan boere te verleen. Dié veldtog duur voort aangesien talle boere steeds gebuk gaan onder vanjaar se droogte ondanks reën wat onlangs fratsvloede in verskeie dele van die land tot gevolg gehad het.

AfriForum het reeds vanjaar droogtehulp aan boere in die Vrystaat en Noordwes verleen deur sowat 300 ton se voer aan hulle te skenk. Dit is moontlik gemaak deur bydraes van die publiek sowel as donasies van twee Nederlandse organisasies genaamd Woord en Daad en Hulp Bij Bijzondere Noden.
Die boere wat tans hulp kry, is vroeër genader om aan te dui wat hul grootste behoeftes is.

Die publiek kan betrokke raak deur hul naam na 38312 te SMS. Elke SMS sal ʼn R10-bydrae tot AfriForum se droogtefonds lewer.