AfriForum v EFF in die “Kill the Boer”-saak: Julius Malema se ontstellendste en gevaarlikste opmerkings
Die burgerregteorganisasie AfriForum se haatspraaksaak teen Julius Malema, leier van die EFF, Mbuyiseni Ndlozi en die Economic Freedom Fighters (EFF) is van 7 tot 18 Februarie 2022 in die Suid-Gautengse Hooggeregshof in Johannesburg aangehoor. AfriForum het in Oktober 2020 ’n klag gelê nadat EFF-ondersteuners “Kill the Boer, kill the farmer” buite die Landdroshof in Senekal gesing het, waar die aangeklaagde moordenaars van die plaasbestuurder Brendin Horner verhoor is.
Eerstens – as die Suid-Afrikaanse media verantwoordelik opgetree het in hul dekking van die AfriForum/EFF-hofsaak, sou hulle berig het oor die ontstellende en gevaarlike uitlatings wat Julius Malema, leier van die derde grootste politieke party in Suid-Afrika, onder eed gemaak het. Ongelukkig het die media grootliks hierin misluk. Om hierdie rede gaan ek Malema se opmerkings hier uitlig en in besonderhede dokumenteer sodat daar kennis geneem kan word van die gevaarlike en afskuwelike aard daarvan. Ek bied dié opmerkings in chronologiese volgorde aan, met tydaanduidings vir verwysing en konteks.
Dag 1 van Julius Malema onder kruisverhoor
Die eerste belangrike openbaring kom wanneer Malema getuig (4:38:39) dat, indien elke woord van die liedere wat die EFF sing letterlik bedoel was, hy en sy ondersteuners regte vuurwapens sou gebruik en in die lug sou afvuur, eerder as om bloot met hul hande te beduie. Adv. Mark Oppenheimer, vir AfriForum, antwoord met ’n snydende vraag: “Would you stand on a stage with a real gun and shoot it in the air?” Malema weier om te antwoord, want hy verskyn in Maart 2022 voor die hof omdat dit lyk asof hy ’n aanvalsgeweer tydens ’n EFF-samekoms in 2018 afgevuur het.
Malema weier later om die EFF-ondersteuners te verdoem wat in 2020 “Kill the Boer” in Senekal gesing het nadat hy ’n video gewys word as bewyse hiervan (5:04:52). Hy verdedig hul haatspraak deur aan te voer dat hulle kwaad (“angry”) is. Kort daarna wys Oppenheimer Malema daarop (5:11:33) dat hy plaasmoorde in sy toespraak in Senekal ontken het, en dat Malema verkies om oor misdaad in die algemeen te praat wanneer hy met die kwessie van plaasaanvalle gekonfronteer word. Aan die ander kant praat Malema spesifiek van swart onderdrukking, teenoor onderdrukking in die algemeen.
Oppenheimer verwys Malema dan na twee sake (5:22:45) waarin anti-wit rassehaat baie duidelik met plaasaanvalle en -moorde verbind kan word. Malema ontduik die vraag aanvanklik, maar later (5:28:28) ontken hy dat rassehaat enigsins ’n rol in plaasmoorde kan speel, selfs nie eens in die geval van die twee gevalle waarna Oppenheimer verwys nie. Oppenheimer vra Malema of wit mense slagoffers in Suid-Afrika kan wees (5:50:56), waarop hy met nadruk sê: “No, not at the current moment. No, no, no, no.”
Dag 2 van Julius Malema onder kruisverhoor
Op 8 Februarie 2022, dag 2 van die hofsaak, blokkeer EFF-ondersteuners die hek na die hof toe die AfriForum-groep die hof verlaat. Nadat die SAPD hulle dwing om op te breek, begin hulle met ’n dreunsang van “Kill the Boer, the farmer” in die rigting van die AfriForum-span toe hulle by die EFF verbystap – die einste lied waaroor die hofsaak handel. Wanneer Malema die video van die voorval gewys word (45:21) en Oppenheimer hom vra of hy sy ondersteuners veroordeel omdat hulle dit gesing het, antwoord Malema: “I don’t. I can sing it myself.”
Oppenheimer verwys Malema later weer na ’n plaasmoordsaak (1:02:40). ’n Ma en haar dogter is doodgemartel en die woorde “Kill the Boer” is in bloed teen hul huis se muur geverf. Malema maak dit af deur daarna as bloot misdadigheid (“criminality”) te verwys, en wyk dan af deur na ’n saak te verwys waarin ’n wit boer ’n 13 jaar oue swart kind doodgemaak het. Oppenheimer vra Malema of hy dié saak as ’n rassistiese moord beskou. Malema antwoord dat dit deur ’n rassistiese motief aangevuur is, want die boer was in ’n magsposisie. Oppenheimer vra dan of die misdadigers wat die wit ma en dogter doodgemartel het in ’n magsposisie oor dié twee vroue was. Malema antwoord: “We do not know whether they are farmers. We do not know their social standing. We do not know the relationship to the means of production.”
Hoewel Malema ’n oorvloed ontstellende, laakbare en gevaarlike opmerkings onder kruisverhoor gemaak het, staan een in die besonder uit weens die sinistere aard daarvan. Oppenheimer verwys na ’n vorige opmerking van Malema, toe hy gesê het: “We are not calling for the slaughtering of white people … at least for now.” Oppenheimer vra (1:11:15) of Malema kan waarborg dat hy nooit die uitmoor van wit mense sal aanhits nie. Malema antwoord dat hy kan dit waarborg – maklik. Oppenheimer versoek hom dan om só ’n waarborg te gee. Malema weier onmiddellik. Toe hy gevra word of dit in die toekoms moontlik hý kan wees wat die besluit daaroor sal neem, getuig hy dat hy in die toekoms moontlik die uitmoor van wit mense sal aanhits; hy kan nie die moontlikheid daarvan uitsluit nie.
Op dag 1 van die kruisverhoor het Oppenheimer aangetoon hoe Malema gereeld in die hof en voor die media voorgee om gematig te wees (5:31:06), in skrille kontras met sy radikale retoriek by saamtrekke voor sy ondersteuners. Malema het toe geantwoord: “I never said I’m someone moderate. I am very radical and very militant.” Nou, op dag 2 van sy kruisverhoor, beskryf Malema die EFF weer eens as ’n “very radical and militant” party (2:02:48). Oppenheimer vra hom of hy die aanwending van geweld sou onderskryf om die EFF se rewolusionêre doelwitte te bereik. Malema se reaksie: “When the time comes, and the conditions on the ground necessitate that arms must be taken, we will do so without hesitation.” Later vra Oppenheimer vir Malema (2:14:40) of hy bang is om mense dood te maak. Malema antwoord uitdruklik: “I am not scared of killing. A revolutionary is a walking killing machine.”
Vroeër in die kruisverhoor (1:16:24) ontbloot Oppenheimer Malema se verwronge beeld van die geskiedenis en sy begeerte om mense kollektief verantwoordelik te hou vir misdade wat hulle nie gepleeg het nie, bloot gebaseer op hul ras. Oppenheimer vra Malema of die wit mense vandag dieselfde is as die wit mense van 1652. Malema antwoord bevestigend. Oppenheimer vra Malema later of hy steeds glo dat alle wit mense kriminele is en as sulks behandel moet word (2:31:35), soos wat hy in die verlede al aangevoer het. Malema antwoord weer ja.
Oppenheimer vra Malema dan (2:40:20) of hy sou ophou om die lied te sing as hy sou opmerk dat daar ’n risiko is dat die sing van “Kill the Boer / Kiss the Boer” daartoe sou lei dat mense ander mense doodmaak. Malema antwoord nee. Oppenheimer sê dan aan Malema: (2:41:45) “The complainant has led evidence of someone whose wife was murdered in front of him, who is now paralyzed. He testified in this court. He said, whenever he hears that song [“Kill the Boer”], it brings back the memory of that day. He broke into tears in this court. That is trauma. That is legitimate trauma. Does that evidence motivate you to stop singing that song?” Malema antwoord nee. Oppenheimer vra dan weer: “So that individual case would not move you?” Malema antwoord: “No, I am not moved.” By 2:44:30 vra Oppenheimer Malema weer na die geregverdigde pyn en trauma van mense wat plaasaanvalle oorleef. Malema antwoord: “I said I am not moved. I said I am not moved. Let me repeat five times. I’m not moved by that case you brought here. I am not moved! And if that will make me lose this case, let me lose it! I am not moved.”
AfriForum se hoofdoelwit in hierdie saak is uiteraard om te wen, maar ons het sonder twyfel reeds ’n sekondêre doelwit bereik: om Malema toe te laat om homself weereens duidelik te ontmasker as ’n haatdraende ekstremis met gewelddadige, bloeddorstige aspirasies. Dit is ’n skande dat die media in ons land grootliks misluk het in hul plig om te help om sy ware gesig aan die wêreld te ontbloot. Pleks daarvan het die land se kommentariaat verkies om Malema se ander woorde voorbladnuus te maak, byvoorbeeld: “Ek sal eendag president wees, of jy nou daarvan hou of nie.” Ek sal binnekort ’n opvolgstuk publiseer wat die media se teleurstellende reaksie op dié saak onder die loep plaas.
Ernst van Zyl is ’n veldtogtebeampte vir strategie en inhoud by AfriForum. Ernst het ’n meestersgraad (met lof) in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch voltooi. Hy is medeaanbieder van die Podlitiek-podsend, bied die Afrikaanse podsend In alle Ernst aan en het ’n kanaal op YouTube vir politieke kommentaar en onderhoude. Ernst plaas gewoonlik bydraes op Twitter en YouTube onder die alias Conscious Caracal.