| |

AfriForum tree dringend op om rioolpype te ontblok

Die AfriForum-tak in Welkom het op 25 Februarie vir Fouche Loodgieters aangestel om verskeie mangate en verstopte rioolpype in Riebeeckstad te ontblok en skoon te maak.

Dit volg nadat inwoners van Riebeeckstad AfriForum genader het met klagtes oor rou riool wat op sommige plekke hul erwe en strate oorspoel.

Die organisasie het sedert Augustus 2019 reeds verskeie skrywes aan die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit gerig oor rou riool in erwe. Die rou riool hou verskeie gesondheidsrisiko’s vir die inwoners in en dit vloei soms vir weke aaneen uit die mangate. Dit is op sommige plekke só erg dat mense om die riool en selfs deur dit moet beweeg om by hul voertuie uit te kom. Die munisipaliteit het tot op hede egter geen poging aangewend om hierdie probleem op te los nie.

Een van die inwoners het AfriForum bedank vir die verstopte rioolpype wat uiteindelik ontblok is. Dié inwoner het vantevore ’n klagte by die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit oor die probleem ingedien, maar die munisipaliteit het glo nie sy beloftes nagekom om dit op te los nie.

“AfriForum kon nie meer toekyk hoe hierdie mense, veral tydens die inperking, elke dag met die onverwerkte riool in hul erwe moes leef nie. Daarom het ons ingespring om die inwoners se omgewing te verbeter. Inwoners het die reg tot ’n skoon omgewing en dit is skokkend om te sien dat die munisipaliteit niks aan hierdie situasie doen nie,” sê Johan Terblanche, voorsitter van AfriForum se Welkom-tak.

“Munisipaliteite is verantwoordelik om hul pligte na te kom. AfriForum glo in selfdoen en ons sal, waar ons kan, self oplossings vir probleme vind,” sê Chris Morgan, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

AfriForum sal voortgaan om hierdie probleme onder die munisipaliteit se aandag te bring en sal ook aanhou om druk toe te pas totdat dit reggestel is.

AfriForum se Welkom-tak nooi die gemeenskap uit om by die organisasie se toekomstige projekte betrokke te raak. Sluit vandag nog by AfriForum aan en word deel van die oplossing: SMS “Welkom” na 45344 (R1).