AfriForum-teenboelieveldtog en Matteus kuier by laerskole in die Strand
AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 8 en 15 Mei besoek afgelê by Laerskool Hendrik Louw en Laerskool Lochnerhof in die Strand. 1 439 leerders het tydens hierdie besoeke geleer oor die effek van boeliegedrag en hoe om hierdie tipe gedrag raak te sien en te hanteer.
Volgens Leandie Bräsler, bestuurder vir Jeugleierskap by AfriForum kan boeliegedrag fisiese en emosionele skade berokken. Daarbenewens kan boeliegedrag ook lei tot swak akademiese prestasie.
Thelma Coetzee, adjunkhoof vir die grondslagfase by Laerskool Lochnerhof, het met entoesiasme oor die veldtog gepraat. “Dit is belangrik dat kinders verstaan wat boeliegedrag is en dit is baie mooi beklemtoon in die vertoning wat deur AfriForum aangebied was. Matteus, die gelukbringer, het die kinders se harte gesteel en kon dit wat vir hulle geleer is vaslê en versterk. Dis belangrik dat kinders voor die tyd weet wat om te doen as dit met hulle gebeur.”
Die adjunkhoof van Laerskool Hendrik Louw, Lize Erasmus, benadruk hoe noodsaaklik dit is vir kinders om die regte vaardighede aan te leer. “Boeliegedrag is iets waarmee ons al hoe meer te doen kry. Kinders beskik nie oor die vaardighede en kennis om teen ’n boelie op te tree nie en soms besef kinders ook nie altyd dat hulle self die boelie is nie.”
“Dit is vir AfriForum belangrik dat leerders die teenboelieveldtog-praatjie bywoon wat gebaseer is op die volle wapenrusting van God, omdat hulle dit kan gebruik om boeliegedrag hok te slaan. Na afloop van die praatjie weet elke leerder hoe om boeliegedrag te identifiseer en hoe om dit stop te sit. Dit is van kardinale belang om leerders op ’n jong ouderdom met die vaardighede toe te rus om dus gevare in die toekoms te voorkom,” sê Tania Scheepers, projekassistent vir Onderwys by AfriForum, oor die kern van hierdie veldtog.
Volgens Bräsler bemagtig AfriForum nou al vir sewe jaar skole landwyd met hierdie veldtog. “Hierdie veldtog skep hoop en moedig kinders aan om mekaar met wedersydse erkenning en respek te hanteer. Dit is daar om ’n positiewe bydra tot die algehele veiligheid van gemeenskappe te maak – die jeug is immers ons toekoms.”
Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog en om die teenboelie- en kuberboeliegids gratis af te laai, besoek gerus www.teenboelie.co.za.