AfriForum-takke woon GOP-werkswinkel in Groot-Brakrivier by
AfriForum se takke in Oudtshoorn, Mosselbaai en George het op 3 Oktober 2019 ’n werkswinkel in Groot-Brakrivier bygewoon. Deidré du Preez, AfriForum se raadgewer by plaaslikeregeringsake, het die opleiding, wat oor deelname aan die hersieningsproses van dié takke se onderskeie munisipale geïntegreerde ontwikkelingsplanne (GOP) gehandel het, aangebied.
Die werkswinkel was spesifiek toegespits op die deelname van takbesture aan volgende jaar se GOP-proses en hoe om kommentaar daarop te formuleer en te verfyn. Takbesture gaan op munisipale verordeninge, die munisipaliteit se ruimtelike ontwikkelingsplan en die sonering van verskeie oop gebiede fokus.
“AfriForum bied die opleiding aan sodat ons takke aktief betrokke kan raak by GOP-prosesse en die openbare vergaderings wat vroeg in 2020 deur die onderskeie munisipaliteite gehou word. Dit is belangrik dat ons gemeenskappe seggenskap het oor hoe hulpbronne in die onderskeie dorpe aangewys word,” sê Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.
AfriForum moedig inwoners aan om GOP-gemeenskapsvergaderings in hul dorpe by te woon en munisipale kwessies aan hul takbesture deur te gee.