AfriForum-takke en ander organisasies herstel slaggate op R33
AfriForum se Vryheid en Paulpietersburg-takke het op 5 Junie saam met die Kambula Boerevereniging en ander organisasies hul teerpad-projek afgeskop. Dié organisasies het begin om slaggate op die R33 te herstel tussen Vryheid en die Pongola-brug op pad na Piet Retief wat ’n wesenlike gevaar vir motoriste inhou. Hierdie projek is begin omdat die Departement van Vervoer nie die slaggate betyds en op die regte wyse herstel nie wat daartoe lei dat die toestand van die pad net meer agteruitgaan.
Tydens hierdie projek is daar ook waarskuwingsborde opgerig om motoriste te waarsku oor die slegte toestand van die pad.
Die AfriForum-takke het ’n finansiële skenking ontvang en besluit om die teerpad-projek te loods aangesien hierdie pad lewensgevaarlik geraak het. Die takke het saam met ingenieurs en lede van die gemeenskap gewerk om hierdie projek te beplan en te verseker dat dit ’n sukses sal wees.
“AfriForum en die Kambula Boerevereniging het naby Vryheid weggespring en in twee dae reeds verskeie slaggate herstel met ongeveer 120 sakkies teer. Ons is baie teleurgesteld in die departement wat nie eers waarskuwingsborde kan aanbring waar die pad in ’n bedenklike toestand is nie,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.
Hierdie projek behoort ongeveer twee weke te duur. Die AfriForum-takke bedank graag die gemeenskapslede, donateurs en ander organisasies wat bygedra het tot hierdie projek.