|

AfriForum-tak vaar Alberton se strate in om dit op te knap

AfriForum se Alberton-tak het die afgelope naweek ’n daadwerklike verskil in die Brackenhurst-omgewing gemaak deur slaggate te vul en padtekens oor te verf. Die span het in Mispelstraat begin deur slaggate te vul en ’n stopteken op die pad oor te verf. Altesaam 18 slaggate is met 460 kg teer gevul, terwyl 21 liter verf en 130 meter maskeerband gebruik is om die padtekens oor te verf.

AfriForum Jeug het ook ’n brandkraan oorgeverf, wat dit duideliker sigbaar maak in noodgevalle. Terwyl die span voorberei het om spoedhobbels oor te verf, het slegte weer die verfwerk gekniehalter. Die tak stop egter nie net hier nie en is van plan om elke naweek minstens een spoedhobbel oor te verf.

“Ons is trots op elke lid wat tyd en energie gee om hul gemeenskap te verbeter. Wanneer ons as gemeenskap opstaan en self die uitdagings aanpak, bewys ons dat ons in beheer kan wees van ons omgewing. Hierdie selfdoen-aksies stuur ’n sterk boodskap: Ons wag nie vir verandering nie, ons is die verandering,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

“Die AfriForum-projekspan in Alberton het op ’n missie gegaan om hul gemeenskap veiliger en mooier te maak. Deur hul eie hande vuil te maak, het hierdie toegewyde span aan inwoners bewys wat moontlik is as ons self verantwoordelikheid neem.”

AfriForum se Alberton-tak nooi inwoners uit om by hierdie selfdoen-aksies betrokke te raak en die verskil te maak wat hulle wil sien. Kontak die tak by 076 329 8697 of besoek www.wordlid.co.za om ’n positiewe impak in jou gemeenskap te maak en deel van die oplossing te wees.

Soortgelyke plasings