|

AfriForum-tak span nagenoeg 44 ton teer in vir “bul” van ’n slaggatprojek

Nagenoeg 44 ton teer, ’n gewig gelykstaande aan dié van sowat 55 Bonsmara-bulle, is gedurende Maart en April, ingespan om ’n bielie van ’n slaggatprojek in ’n bul van ’n projek te omskep. AfriForum se Lichtenburg-tak is reeds bekend vir hul deurlopende werk aan die herstel van slaggate in dié dorp, maar hierdie projek het die afgelope twee maande in ’n selfs hoër rat gekom toe ’n totaal van 43,75 ton teer en vyf dromme SS60-bitumen ingespan is om slaggate mee te herstel.

Die slaggatprojek is gedurende Maart en April op veral die volgende strate in Lichtenburg toegespits: 

  • Scholtzstraat: ’n Totaal van 45 slaggate is hier met 60 sakkies teer herstel. Eagle Construction het bystand verleen met Scholtzstraat se herstel.
  • Piet Retiefweg en Susterstraat: Herstelwerk aan dié twee strate is as deel van ’n gesamentlike projek tussen die AfriForum Lichtenburg-tak en die Lichtenburg-teerprojek aangepak. Tien ton warm teer en een drom SS60-bitumen is aangewend vir die herstel 78 slaggate in ’n strook van 56 m2.
  • Buchananstraat: ’n Totaal van 20 ton warm teer en twee dromme SS60-bitumen is gebruik om 74 slaggate te herstel. Dié herstelwerk is met die ondersteuning van NWK gedoen.
  • Francesstraat: Met 130 sakkies teer en een drom SS60-bitumen is 62 slaggate in dié straat herstel. Die Lichtenburg-teerprojek het bygedra tot die sukses van hierdie straat se herstelwerk.
  • Le Rouxweg: Met die hulp van die Lichtenburg-teerprojek, NWK en Rossouw-vulstasie is 10 ton warm teer en een drom SS60-bitumen gebruik om 58 slaggate in Le Rouxweg te herstel.

Volgens die slaggatprojekleier, Pine Pienaar, is die werk van die slaggatspan – wat uit net vier werkers bestaan – sowel as die bystand van die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit en NWK onontbeerlik tot die sukses van die slaggatprojek. Terwyl die slaggatspan ongeag wind en weer onverpoosd voortwerk, is die munisipaliteit se skenking van sement vir die opvul van slaggate en NWK se steun met die beskikbaarstelling van vervoer en toerusting alles elemente wat hierdie projek laat floreer.

Pienaar is ook dankbaar vir die hulp wat Lichtenburgers, veral dié betrokke by die Lichtenburg-teerprojek, en Gideon du Preez van Lichcrete, gebied het. “Hierdie projekte is ’n bewys dat AfriForum se samewerking met ander individue en instellings ’n daadwerklike positiewe verskil maak in die opbou van ’n beter Lichtenburg,” sluit Pienaar af.

Jy kan ook ’n verskil maak!

Veroorsaak die gehawende toestand van Lichtenburg se paaie dat jy so tussen die slaggate moet deurvleg? Is dit jou gunstelingroete kantoor toe? Of dalk die roete wat jy volg om die jongspan by die skool af te laai? Jy kan nou ’n straat vir herstelwerk nomineer. AfriForum se Lichtenburg-tak daag inwoners en ondernemings uit om teer te skenk en dan ’n spesifieke straat vir herstelwerk te nomineer. Sodoende word daar saam-saam ’n positiewe verskil aan die slaggatkrisis op Lichtenburg gemaak.

Soortgelyke plasings