|

AfriForum-tak pak talle probleme in Kimberley

AfriForum se Kimberley-tak het in September beduidende vordering gemaak met die veiligheid en welstand van die gemeenskap. Dié tak het verskeie inisiatiewe van stapel gestuur om Kimberley vir al sy inwoners te verbeter. Een van dié inisiatiewe sluit in die voltooiing van die tweede fase van die kameraprojek. Die installering van ’n tweede LPR-kamera in die stad is ’n groot mylpaal in die tak se pogings om proaktief die gemeenskap te beveilig. Hierdie kameras herken nommerplate met behulp van kruisverwysings na plaaslike en internasionale databasisse sodat booswigte nóg vinniger in hul spore gestuit kan word.

Die tak se buurtwag het ook verlede maand sy patrollering voortgesit. Die buurtwag se patrollering tesame met die LPR-kameras skep ’n robuuste veiligheidsnetwerk wat aansienlik bydra tot die algehele veiligheid van die omgewing. Hiermee saam het die tak plaaslike polisiebeamptes ondersteun deur 300 penne aan die polisiestasie te skenk. Dié skenking ondersteun die polisie se pogings om wet en orde in Kimberley te handhaaf.

Benewens sy proaktiewe standpunt oor veiligheid, het AfriForum se Kimberley-tak ook sy aandag op verskeie diensleweringskwessies in die gemeenskap gevestig. Die tak het twee groot rioollekke aan die Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit aangemeld, aangesien dit grootskaalse besoedeling veroorsaak. Daar word glo aandag aan dié lekkasies gegee. Die tak het ook by die stad se treurige vullisverwydering betrokke geraak deur vullis op te tel en te verwyder. Die tak pak weekliks die strate van Kimberley aan om vullis op te tel, parke se gras te sny en bome te snoei.

“AfriForum se Kimberley-tak is besorg oor die welstand van die gemeenskap en sal voortgaan om kwessies met betrekking tot veiligheid en dienslewering self aan te pak of druk op die munisipaliteit toe te pas om die probleme die hoof te bied,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder van die Karoo.

AfriForum is daartoe verbind om ’n skoon, veilige en volhoubare gemeenskap te bevorder. Besoek www.wordlid.co.za om by ​​AfriForum se Kimberley-tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings