AfriForum-tak knap Burgermonumentterrein op
AfriForum se Zeerust-tak het die afgelope maand, as deel van ’n deurlopende projek, verdere opknappingswerk by die Burgermonument op die hoek van Hendrik Potgieter- en Forsmanstraat gedoen. Hierdie keer is bome op die terrein gesnoei en indringerplante is met onkruiddoder gespuit. ’n Totaal van twee vragte tuinvullis en twee sakke rommel is ook verwyder.
“Die instandhouding van ons monumente is van groot belang vir die bewaring van ons gemeenskap se geskiedenis. Deur hierdie projek sien die Zeerust-tak om na die tasbare komponent van ons geskiedenis sowel as die kultuur en erfenis wat dit verteenwoordig,” verduidelik Pierre van der Walt, ondervoorsitter van AfriForum se Zeerust-tak.
“Ons monumente vertel die stories van ons geskiedenis en vorm deel van ons identiteit. Dit is ons verantwoordelikheid om te verseker dat hierdie erfenisterreine bewaar word sodat toekomstige geslagte die waarde van ons geskiedenis kan verstaan en waardeer,” voeg Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico, by.
AfriForum doen ’n beroep die Zeerust-gemeenskap om betrokke te raak by dié en soortgelyke projekte van die plaaslike AfriForum-tak. Sluit vandag nog aan by dié tak. Kontak Van der Walt (082 569 8564) vir meer inligting.
Meer oor die Burgermonument
Die Burgermonument bestaan onder meer uit ’n gedenkmuur met ’n naamlys van burgers wat tydens die Slag van Kleinfontein, Buffelshoek (ook bekend as die Slag van Elandsrivier) en Lichtenburg gesneuwel het, sowel as oorspronklike grafstene van enkele van dié oorlede burgers. Dit gedenk ook burgers wat by die Beleg van Mafeking omgekom het sowel as gestorwe burgers van die Marico-omgewing wat aan die Anglo-Boereoorlog deelgeneem het. Die veldslae van Kleinfontein, Buffelshoek en Lichtenburg het onderskeidelik op 24 Oktober 1901, 4 tot 16 Augustus 1900 en 3 Maart 1901 plaasgevind, terwyl die Beleg van Mafeking langer as 200 dae lank, vanaf 13 Oktober 1899 tot 17 Mei 1900, geduur het.