AfriForum-tak in Kempton Park ontvang insidentbeheeropleiding en stig komitee
AfriForum se Kempton Park-tak het op 17 Junie 2017 insidentbeheeropleiding ontvang. Die taklede het ook gisteraand ’n insidentkomitee gestig.
“Die opleiding het ten doel om die gemeenskap te leer hoe om op te tree tydens onder meer gewelddadige betogings en natuurrampe. Ons gemeenskap is byvoorbeeld op 22 Junie 2017 deur ’n insident geraak waar betogers onwettig die Birch Acres-woongebied afgesper en inwoners se vryheid op beweging belemmer het. Hierdie soort insidente waar ons as ’n gemeenskap in staat sal moet wees om te bestuur en gereed moet wees,” sê Jan Vermaak, buurtwagvoorsitter van die Kempton Park-tak.
“Daar is ’n toename in insidente wat ’n negatiewe uitwerking op gemeenskappe het en die regering is nie in staat om behoorlike beskerming te bied nie. Gemeenskappe sal self verantwoordelikheid moet neem om insidente en rampe te bestuur of voorkom,” sê Wico Swanepoel, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Gauteng-Suid.
Die komitee sal in samewerking met ander rolspelers optree. AfriForum nooi gemeenskapslede uit om daarby betrokke te raak.