|

AfriForum-tak in Heilbron verkies nuwe bestuur

Die AfriForum-tak in Heilbron het op 15 Maart gedurende ’n gemeenskapvergadering ’n nuwe takbestuur verkies.

Die bestuur bestaan uit Gerrie Muller (voorsitter), JD Claassen (ondervoorsitter), Liannie Bennink (sekretaresse), Paul Bergh (tesourier) en Eben Stander (veiligheid).

Die nuwe span is vol entoesiasme en het die wilskrag om ’n verskil in Heilbron te maak.

By hierdie geleentheid is daar ook ’n sertifikaat van AfriForum aan Quarta Pretorius, ’n jarelange inwoner van Heilbron en bekende in die kultuur- en erfeniskringe, oorhandig vir haar lewenslange bydrae tot die bevordering van kultuur en erfenis, veral in Heilbron. Sy is steeds aktief betrokke by die Vegkop-museum en die historiese begraafplaas.

Hans Pretorius van die Mafube Besigheidsforum in Frankfort het die gemeenskap toegespreek oor AfriForum en die Mafube Besigheidsforum se hofsaak teen president Cyril Ramaphosa en 16 ander respondente. Dié organisasies het die Vrystaatse hooggeregshof in Bloemfontein genader in ’n poging om dienslewering in die Mafube Plaaslike Munisipaliteit te verseker en versoek ingryping op nasionale vlak sodat inwoners die dienste ontvang waarop hulle geregtig is. Die datum waarop uitspraak gelewer sal word, is nog onbekend.

Pretorius het ook die gemeenskap van Heilbron aangemoedig om ’n gemeenskapsforum te stig wat nou met AfriForum kan saamwerk om aandag aan die groot probleme in die dorp te skenk.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, was dit ’n baie suksesvolle vergadering en rus die onus nou op die gemeenskap om daadwerklik op te tree teen die verval en korrupsie in Heilbron.

“Daar is ’n baie sterk span aan die stuur van die plaaslike AfriForum-tak en ons sal met die gemeenskap hande vat om weer van Heilbron ’n spogdorp te maak. Verteenwoordigers van Phiritona, wat ook gebuk gaan onder die verval en korrupsie, het ook die vergadering bygewoon en is vasberade om met AfriForum hande te vat. Ek glo dat hierdie vergadering die begin van baie goeie samewerking sal wees,” sluit Pretorius af.

Die gemeenskap word aangemoedig om by hierdie AfriForum-tak aan te sluit om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Heilbron” na 45344 (R1) en raak betrokke.

Soortgelyke plasings