| |

AfriForum-tak in Heilbron en gemeenskap vat hande

Die AfriForum-tak in Heilbron het op 4 April met ’n skoonmaakprojek in Langmarkstraat in die dorp begin.

Ongeag die reёn en gure weer het daar heelwat gemeenskapslede en leerders van die plaaslike skool opgedaag om ’n verskil in hul dorp te maak. Die hoof van die gevangenis het ook opgedaag met ’n span gevangenes wat hard gewerk het.  Die gemeenskap het toerusting geskenk of geleen sodat die gras gesny en die vullis opgetel kon word. Alhoewel die projek nog nie voltooi is nie, maak dit reeds ’n reuseverskil.  

“Net ons kan iets aan die dorp se agteruitgang doen. Geen ouer kan toesien dat sy kinders so grootword en die gehawende omstandighede van die dorp as normaal beskou nie,” sê Gerrie Muller, voorsitter van die Heilbron-tak.

“Dankie vir elkeen se bydrae tot die insiatief, veral die borge. Heilbron kan en sal ’n beter plek word!”

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, was dit heerlik om te sien hoe die gemeenskap hande vat om hul geliefde dorp weer na iets te laat lyk – nie eers die reën kon hulle stuit nie.

“Alhoewel die projek nog baie ver van klaar is, maak dit reeds ’n merkbare verskil. Dit was veral bemoedigend dat daar soveel kinders was wat ook nou al vroeg tot die besef kom dat ons self moet doen as ons iets gedoen wil hê,” sluit Pretorius af.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Heilbron” na 45344 (R1) en raak betrokke.