|

AfriForum-tak en gemeenskap van Rayton-Cullinan maak R515 mooi

Die sypaadjies langs die R515-hoofweg kan nou weer deur ’n ring getrek word danksy AfriForum se Rayton-Cullinan-tak en verskeie rolspelers vanuit dié gemeenskap. Op 17 Januarie het hierdie groep selfdoeners moue opgerol en gras gesny, bome gesnoei en onkruid op hierdie stroke verwyder.

Hierdie aksie volg op ’n versoek deur Johannes Bekker, raadslid van Wyk 100, dat inwoners en ander rolspelers sal help om hierdie area op te kikker.

“Dit is vir AfriForum lekker om deel te wees van ’n selfdoengemeenskap soos hierdie. Dis werklik hierdie tipe aksies saam met rolspelers wat graag iets wil doen wat uiteindelik help om ’n voorspoedige toekoms te bou,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

AfriForum se Rayton-Cullinan-tak het hierdie aksie saam met die volgende rolspelers aangepak: Rayton-Cullinan-buurtwag, Kobus van Vuuren, Frikkie van der Merwe, Frans Reitsma, Barend Dorfling, Schubert Wholesale Nursery, Die Hoek Pub, GJS Trucking, Pick’n’Pay, HomePin, Van Staden Tuindienste en Engen.

“Hierdie is die begin van ’n goeie verhouding tussen AfriForum en hierdie rolspelers wat ’n verskil wil maak in hulle gemeenskap. Die AfriForum-tak in Rayton-Cullinan sal voortgaan om projekte soos dié aan te pak om ons area te verbeter,” sluit Ungerer af.

Raak vandag betrokke deur ’n epos te stuur aan dewet.ungerer@afriforum.co.za of sluit aan by www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings