|

AfriForum-tak doen beroep op Tswaing-munisipaliteit om gevaarlike natuurreservaat te omhein

Die Henk Joubert-natuurreservaat is ’n onomheinde natuurreservaat op die R501 tussen Delareyville en Ottosdal wat ’n groot gevaar vir motoriste inhou. AfriForum se Delareyville-tak het reeds vroeër die maand waarskuwingsborde opgerig om motoriste te waarsku dat wilde diere oor die pad kan beweeg, maar die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit moet sorg dat die natuurreservaat omhein word.

Daar was die naweek van 19 Julie nóg ’n ongeluk op hierdie pad toe ’n motoris met ’n sebra gebots het. Die AfriForum-tak het ’n dringende skrywe aan die Tswaing-munisipaliteit gerig om dringend aandag te gee aan hierdie kwessie.

In sy skrywe eis die tak onder meer dat die Tswaing-munisipaliteit:

  • moet toesien dat ’n behoorlike heining rondom die Henk Joubert-natuurreservaat aangebring word en instandgehou word;
  • nuwe waarskuwingsborde 10 km voor en ná die natuurreservaat moet aanbring om motoriste te waarsku om op die uitkyk vir wilde diere te wees;
  • ’n tydlyn aan AfriForum moet verskaf oor presies wanneer die heining en waarskuwingsborde opgerig gaan word en
  • so gou moontlik ’n vergadering met AfriForum belê om die probleem en toekomstige oplossings te bespreek.

“Mense en wilde diere se lewens is hier op die spel en dit is onaanvaarbaar dat die Tswaing-munisipaliteit net hul skouers optrek in plaas daarvan om die probleem op te los. Ons wil graag ’n hand van samewerking na die munisipaliteit uitsteek sodat ons hierdie probleem meer doeltreffend kan oplos. Intussen wonder ons hoeveel motorongelukke dit gaan vat voor die munisipaliteit optree,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Die Delareyville-tak het ’n rits ander projekte wat ook nog voorlê vir die res van die jaar en hulle doen ’n beroep op die gemeenskap om by hulle aksies betrokke te raak deur www.wordlid.co.za te besoek of vir Nel te kontak by jp.nel@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings