AfriForum-strukture help tydens Paarlberg-brande
AfriForum se Groot Drakenstein-plaaswag, in samewerking met AfriForum se Paarl-tak, het dadelik ingespring om die gemeenskap te help tydens die groot brande, wat Saterdag 30 November op Paarlberg uitgebreek het. Met die brande wat ongeveer 160 hektaar se fynbos en gemengde bos afgebrand het, het die brandweer hul hande vol gehad en hul lewens in gevaar gestel om die brande te blus.
Verskeie huise en ondernemings is ontruim en danksy diegene op voetsoolvlak wat die brande bestry het en dié wat ondersteuning gebied het, is geen geboue beskadig of ernstige beserings aangemeld nie.
Terwyl die brande gewoed het, het AfriForum se Groot Drakenstein-plaaswag en Paarl-tak gehelp met die koördinering en verspreiding van hulpbronne ter ondersteuning van die brandbestryders.
Verskeie individue en plaaslike ondernemings het met skenkings gehelp: AfriForum bedank graag Hennie’s Paarl, Annelie Stapela, Boland Bricks, Roodeberg-apteek, McDonald’s Paarl, Pasadena Spur, ProWeld, Debonairs Pizza Paarl, Tops Paarl, Manzi Water Paarl, Checkers Sentraal-Paarl, Paarl Dischem, Suider-Paarl Shell, Glen Carlou-wynlandgoed, Cyclops Security Solutions, Paarl Pals en Navaho Spur Brackenfell.
Luidens berigte het kwaaddoeners die brande begin. Een verdagte is in hegtenis geneem en tans in aanhouding vir brandstigting.
AfriForum-patrolleerders het die gebiede wat ontruim is tot Sondagoggend 04:00 gepatrolleer om moontlike kwaaddoeners en misdadigers uit te hou.
Die AfriForum-plaaswag en -tak is ook reeds besig met beplanning vir die volgende noodtoestand tydens die brandseisoen.
Lede van die gemeenskap word aangemoedig om aan te sluit by hul plaaslike AfriForum-tak en -buurtwag/plaaswag om werklik ’n verskil in hul gemeenskap te maak. Besoek www.wordlid.co.za.