AfriForum stig tak in Pinetown
Die burgerregteorganisasie AfriForum het onlangs ’n nuwe tak in Pinetown gestig ná versoeke uit die gemeenskap. Die stigtingskomitee bestaan uit Magda Meiring (voorsitter), Conrad Wilhelm (ondervoorsitter), Deon Oosthuizen (tesourier), Wilna Wepner (sekretaresse) en Charlize Oosthuizen (addisionele lid).
Tydens die stigtingsvergadering het Eugene van Aswegen, distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal, die organisasie se model en onlangse suksesse voorgehou. AfriForum se model fokus daarop om gemeenskappe sterker te maak en die onkeerbare verval van regeringsverpligtinge op plaaslikeregerings-, gemeenskapveiligheid- en omgewingsakevlak te stuit. AfriForum se aanbod sluit geakkrediteerde opleiding, toerusting, ’n nasionale netwerk en waardevolle ervaring in.
Van Aswegen het ook ’n toespraak gelewer met die onderwerp “om te beplan vir die volgende generasie”.
“Ons is opgewonde om deel te wees van ’n organisasie wat gemeenskappe dien om vir ons ’n toekoms in Suid-Afrika te help skep. Ons nooi almal wat wil deel word van die oplossing om met een van die bestuurslede te skakel. Ons wil graag uitbrei om ’n volwaardige tak vir die gemeenskap van Pinetown te wees,” sê Meiring, voorsitter van die nuwe Pinetown-tak.
“Ons beplan vir die volgende generasie en sien uit om saam met Pinetown ons strukture uit te brei om ’n volhoubare toekoms te skep. Ons sien daagliks al hoe meer die behoefte aan gemeenskappe wat betrokke is om dienslewering te verseker. Ons het ’n veg-en-bou-benadering om vir goeie dienslewering te veg, maar ook self in te spring waar die staat faal,” sê Van Aswegen.
Die gemeenskap word aangemoedig om by hierdie AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Pinetown” na 45344 (R1).