|

AfriForum stig tak in Cederberg-distrik

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 1 Augustus 2022 ’n tak in die Cederberg-distrik gestig nadat gemeenskapslede van die omliggende dorpe, waaronder Clanwilliam, Citrusdal, Graafwater en Lambertsbaai, die behoefte vir ’n AfriForum-tak uitgespreek het.


Die bestuur bestaan uit Hendrik le Roux (voorsitter), Wouter Vierbergen (ondervoorsitter), Rousseau Klue (sekretaris), Johan Smit (tesourier), Colin Erasmus (plaaslikeregeringsake), Jan-Hendrik Slabbert (omgewingsake), Wouter Vierbergen (bemarking), Braham Beukes (veiligheid) en Uys Kemp (jeug).


“Die gemeenskap het AfriForum genader en wil deur middel van die tak hulself bemagtig om selfdoen-projekte aan te pak om sodoende ’n verskil in hul onderskeie gemeenskappe te maak. Die nuutgestigte tak is baie entoesiasties en wil graag op al die gebiede fokus en die gemeenskap by verskeie inisiatiewe betrek,” sê Johan Crous, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.


Hendrik le Roux, die nuwe voorsitter, sê voorts hulle sal graag die plaaslike regering weer op standaard wil sien, sodat daar gesonde bestuur en kohesie kan wees. “Deur met alle rolspelers in die gebied saam te werk, gaan ons ’n daadwerklike verskil kan maak,” sê Le Roux.


Die tak moedig die gemeenskap aan om by hul eie AfriForum-tak betrokke te raak om ’n daadwerklike verskil te maak in hul gemeenskap: SMS “Cederberg” na 45350 (R1) om vandag nog aan te sluit.

Soortgelyke plasings