| |

AfriForum stig buurtwag in Midvaal

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 31 Mei ’n buurtwag in Midvaal gestig. Hierdie buurtwag vorm deel van AfriForum se Midvaal-tak en het ten doel om die gemeenskap in samewerking met die polisie en ander plaaslike veiligheidsinstansies in nood te help.

Hennie Dreyer, wat as die leier van dié nuwe buurtwag aangewys is, gryp hierdie geleentheid met ope arms aan om ’n verskil in Midvaal te maak.

“Ek is baie opgewonde oor die stigting van ons buurtwag en nooi die gemeenskap uit om by ons in te skakel. Ons kan nie langer die geveg teen misdaad op die skouers van die polisie alleen laat rus nie; ons moet self betrokke raak,” sê Pieter Swart, voorsitter van die Midvaal-tak.

“Die veiligheidsuitdagings wat ons gemeenskappe deesdae in die gesig staar vereis dat ’n buurtwaglid toegerus is met die nodige kennis om met selfvertroue op te tree en goeie besluitneming aan die dag te kan lê. Ons het ’n uitgebreide opleidingsprogram en sal dus spoedig daarmee begin,” sê Stephanus Blignault, distrikskoördineerder in die Wes-Rand.

“AfriForum sien daarna uit om met alle veiligheidstrukture in Midvaal saam te werk en Midvaal ’n veilige plek te maak.”

Inwoners wat graag by AfriForum se Midvaal-buurtwag wil betrokke raak, kan ’n WhatsApp-boodskap stuur na 072 771 9081 of e-pos na midvaal@afriforumtak.co.za.

Klik hier om vandag nog by AfriForum se veiligheidstrukture betrokke te raak.