|

AfriForum stel driepuntplan bekend om Onteieningswet te beveg

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag sy driepuntplan vir die bevegting van die omstrede Onteieningswet tydens ’n mediakonferensie in Centurion bekendgestel. AfriForum hou vol dat dié wet ’n kritieke bedreiging vir privaateiendomsreg inhou en enduit beveg moet word.

Die driepuntplan sal ’n antipromulgeringsaksie, regsaksie én ’n internasionale bewusmakingsveldtog téén die Onteieningswet insluit.

Die eerste stap van die plan sal daarop gemik wees om die promulgering van die wet te verhoed. AfriForum het Vrydag reeds ’n beroep op Dean Macpherson, minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, gedoen om te weier om medeondertekenaar van die wet se proklamasie te wees. Kragtens artikel 101(2) van die Grondwet moet ’n minister medeondertekenaar wees indien die wet ’n funksie raak wat aan die betrokke minister opgedra is. Indien Macpherson egter die wet sou medeonderteken, is AfriForum gereed om hom en president Cyril Ramaphosa op grond van die irrasionaliteit van hul optrede voor die hof daag.

Die tweede stap van AfriForum se driepuntplan sal wees om die grondwetlikheid van die Onteieningswet in die hof toets. Volgens AfriForum se regspan het die organisasie goeie gronde om die grondwetlikheid van die wet te toets. AfriForum het reeds op 15 April verlede jaar ’n brief aan Ramaphosa gestuur om die gronde uiteen te sit. Die vernaamste beswaar wat AfriForum teen die grondwetlikheid van die wet het, is die feit dat die Grondwet regverdige en billike vergoeding vereis. Die wet maak egter uitdruklik voorsiening vir nul-vergoeding in spesifieke gevalle, maar daardie gevalle word nie beperk nie. AfriForum hou vol dat dit ernstige risiko’s vir arbitrêre optrede deur onteieningsowerhede skep.

Klankgreep: Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger en prokureur van Hurter Spies.

Die derde aspek van AfriForum se plan behels ’n geteikende internasionale veldtog waardeur die organisasie internasionale rolspelers gaan nader en inlig oor die risiko’s van en AfriForum se kritiek op die wet. Die doel van AfriForum se internasionale veldtog is om teenstand teen die wet se bedreiging vir privaat eiendomsreg vanuit die buiteland te mobiliseer.

Volgens Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, is AfriForum en ander burgerlike organisasies die laaste linie van verdediging wat staan tussen die regering en eienaars van privaat eiendom.

“Oral waar die ondermyning van privaat eiendomsreg plaasgevind het, soos in Zimbabwe en Venezuela, het dit katastrofiese ekonomiese gevolge gehad. Ons moet dus elke opsie tot ons beskikking benut in ons verset teen hierdie vernietigende wet,” sluit Van Zyl af.

Klankgreep: Ernst van Zyl, AfriForum se hoof van Openbare Betrekkinge

AfriForum het ook tydens vandag se konferensie onderneem om, in die belang van die beskerming van privaat eiendomsreg, regsaksie in te stel namens diegene wie se eiendom deur die regering geteiken word vir onteiening sonder vergoeding.

AfriForum moedig die publiek aan om hul steun aan die veldtog teen onteiening toe te sê by www.onteiening.co.za.

Soortgelyke plasings