AfriForum staan Eskom se prysskok by openbare sitting teen
Die burgerregte-organisasie AfriForum gaan op 11 Mei 2018 ’n voorlegging by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se openbare sitting doen om Eskom se buitensporige regulatoriese rekeningklaringsaansoek (RCA) teen te staan. Eskom wil R67 miljard van verbruikers verhaal en dit beteken dat elektrisiteitspryse met 30% of meer verhoog kan word.
Dr. Eugene Brink, AfriForum se strategiese raadgewer vir gemeenskapsake, sê dat só ’n verhoging uiters gevoelig vir verbruikers sal wees in ’n tyd dat die ekonomie besig is om herstel te toon post-Zuma. “Eskom – trouens die hele staat – verhaal te maklik geld van belastingbetalers en verbruikers vir probleme wat hulle self geskep het. Sulke hoë verhogings sal nie net in kragpryse weerspieël word nie, maar ook in verhoogde inflasie en duurder goedere en dienste.
“Dit is hoekom AfriForum as burgerregtewaghond die publiek se saak voor Nersa gaan stel. Dit gaan nie help om aan te hou om geld by die publiek te vat indien munisipaliteite miljarde skuld en daar nog nie aandag aan ander probleme – soos Eskom se oorgroot werksmag, korrupsie, wanbestuur en vergoedingstruktuur – gegee is nie,” sê Brink.
Hy moedig die publiek aan om aan hierdie prosesse deel te neem om sodoende te poog om ’n moontlike groot Eskom-prysskok te vermy. Die sittings het reeds op 16 April in die Wes-Kaap begin en daar word gedurende April en Mei een sitting per provinsie gehou.
Die skedule is soos volg:
18 April 2018
Oos-Kaap: Eastcape-opleidingsentrum, Spondostraat, Struandale, Port Elizabeth
19 April 2018
KwaZulu-Natal: Internasionale Konferensiesentrum, Bram Fischerweg 45, Durban
23 April 2018
Noordwes: Matlosana-gemeenskapsentrum, h.v. Bram Fischer- en Emily Hobhousestraat, Klerksdorp
3 Mei 2018
Noord-Kaap: Mittah Seperepere Konferensiesentrum, W. Circularweg 10, Kimberley
4 Mei 2018
Vrystaat: Protea Hotel Bloemfontein, Nelson Mandelarylaan 202, Brandwag, Bloemfontein
7 Mei 2018
Mpumalanga: Orion Hotel, h.v. Samora Machelrylaan en Henshallstraat, Nelspruit
9 Mei 2018
Limpopo: Limpopo Garden Court, h.v. Thabo Mbeki- en President Paul Krugerstraat, Polokwane
11 Mei 2018
Gauteng: Walter Sisulu-plein, h.v. Klipspruit Valley- en Unionweg, Kliptown, Pimville Sone 9, Soweto