|

AfriForum span nuwe buurtwagtoep in om misdaad te bekamp

AfriForum het ’n nuwe slimfoontoepassing ontwikkel wat die organisasie se buurtwagte die vermoë sal gee om insidente tydens patrollies onmiddellik te rapporteer, hulp te ontbied en inligting te versamel.

Die buurtwaglede hoef net ’n paar knoppies te druk om ’n insident te rapporteer, daar is vooraf ’n lys van tipes insidente opgestel om uit te kies en die koördinate word ook dadelik versamel sodat moontlike brandpunte makliker identifiseer kan word.

Buurtwaglede kan ook op die toepassing aandui of hulle tans aan diens is of nie. Wanneer ’n buurtwaglid patrolleer sal die toepassing hul ligging regstreeks volg om te verseker dat hulle na die regte toneel ontbied word. Buurtwaglede kan ook stemboodskappe, video’s en foto’s neem op die toepassing self om inligting oor insidente so volledig as moontlik deur te gee.

Dié toepassing sal ook die patrolleerders se noodsaaklike inligting bevat soos kontakbesonderhede van naasbestaandes, mediesefondsinligting, by watter AfriForum-tak die patrolleerder geaffilieer is en so meer.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, span die organisasie gereeld nuwe tegnologie in om as magsvermenigvuldiger te dien.

“Hierdie toepassing is ’n groot deurbraak in ons pogings om ons patrolleerders se werk te vergemaklik en sodoende hul doeltreffendheid te verskerp. Die inligting wat ingesamel word kan ook gebruik word om misdaadtendense te monitor en te analiseer om dan beter teen dit te kan optree.”

Sluit nou aan by jou naaste AfriForum-buurtwag by www.afriforumbuurtwag.co.za.

Soortgelyke plasings