AfriForum sluit ooreenkoms met Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit vir advies met water- en sanitasiedienste
AfriForum en die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit het ’n ooreenkoms gesluit waarvolgens AfriForum die munisipaliteit met advies sal bystaan om die knellende probleme met water en sanitasie te help oplos.
Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, is dit ’n belangrike stap vorentoe om te verseker dat die gemeenskap volhoubare dienste ontvang. “AfriForum verwelkom die sluit van die ooreenkoms om advies te lewer oor water- en sanitasie aangesien dit ons die geleentheid gee om die beste kundigheid na die tafel toe te bring om te help dat die munisipaliteit se probleme met die volhoubare lewering van water- en sanitasiedienste oorkom kan word”.
Johan Kruger, AfriForum se hoof van Gemeenskapsontwikkeling, verduidelik dat munisipaliteite die kundigheid en goedertrou in gemeenskappe moet ontsluit met hierdie soort ooreenkomste. “Die munisipaliteit se stap om ons aanbod om hulp te aanvaar is prysenswaardig. Ons het reeds deurtastende vergaderings met die munisipaliteit gehad en die waterwerke besoek. Ons span kundiges werk nou aan aanbevelings en ’n veelsydige raamwerk vir ingrypings op die kort-, medium- en langtermyn.”
“Dit is die derde ooreenkoms van sy soort wat AfriForum met munisipaliteite sluit. Ons het soortgelyke ooreenkomste met die Modimolle – Mookgopong Plaaslike Munisipaliteit gesluit, waar ons reeds besig is om advies en bystand te lewer,” sluit Kruger af.
Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Parys” na 45344 (R1).