|

AfriForum skop jaarlikse blou-en-groendruppelprojek af

AfriForum-takke landwyd gaan tydens Augustus die watergehalte van drinkwater en water by rioolwaterbehandelingswerke toets – die uitslae sal later in die organisasie se blou-en-groendruppelverslag bekendgemaak word. AfriForum het sy jaarlikse blou-en-groendruppelprojek aan die begin van die maand in Bethal afgeskop waar die water by die rioolwaterbehandelingswerke getoets is.

Die organisasie vervul sedert 2013 ’n moniteringsrol met hul blou-en-groendruppelprojek ná die Departement van Water en Sanitasie (DWS) opgehou het om hulle blou-en-groendruppelverslag saam te stel. Volgens AfriForum is dit belangrik dat gemeenskappe moet weet of hulle water veilig is om te gebruik of nie en die leemte moes gevul word.

Die DWS het intussen weer begin om hul eie verslag saam te stel, maar AfriForum sal onverpoosd voortgaan om onafhanklike watertoetse te doen en die uitslae aan die publiek beskikbaar te stel.

AfriForum het reeds vanjaar telkemale die kollig geplaas op die dreigende waterkrisis in Suid-Afrika en die regering se versuim om die swak toestand van waterinfrastruktuur en natuurlike waterhulpbronne op te los. Ondanks talle klagtes uit gemeenskappe oor riool in drinkwater en selfs geen drinkwater blyk dit dat die regering steeds nie in staat of bereid is om op te tree nie.

“Miljoene liters rou riool word weens die swak toestand en onvoldoende kapasiteit van rioolwaterbehandelingswerke in riviere gestort en dit skep die ideale toestande vir die verspreiding van wateroordraagbare siektes soos ons verlede jaar met die cholera uitbreking gesien het. Die einste riviere waarin riool gestort word, is die bron van drinkwater vir miljoene mense landwyd, maar omdat drinkwaterstelsels ook in ’n swak tot kritieke toestand is, word die gesondheid van Suid-Afrikaners ernstig bedreig,” sê Marais de Vaal, AfriForum se adviseur vir Omgewingsake.

Die DWS se eie blou-en-groendruppelverslag het verlede jaar veel te wense gelaat. Volgens dié verslag is 46% van drinkwater mikrobiologies nie veilig vir menslike gebruik nie; 24% het daarin misluk om chemies geskik vir menslike gebruik te wees; en 67.6% van alle rioolwaterbehandelingswerke in die land is in ’n hoë of kritiekerisikokategorie, wat beteken riool kan nie tot voldoende standaarde behandel word om veilig in die omgewing vrygestel te word nie.

“Ons kan nie langer op die regering vertrou om veilige water te verskaf nie en daarom toets ons self die watergehalte,” voeg Lambert de Klerk, bestuurder vir Omgewingsake by AfriForum.

“Indien ons toetse aandui dat daar nie aan die voorgeskrewe standaarde voldoen word nie, sal AfriForum verseker dat gemeenskappe onmiddellik van enige gevare in kennis gestel word en die betrokke munisipaliteit aanmaan om so gou as moontlik die probleme op te los,” sluit De Vaal af.

Soortgelyke plasings