AfriForum skep hoop: verskaf ondersteuning tydens hofsaak ná plaasaanval
AfriForum se traumaondersteuningseenheid ondersteun Drieka Botha sedert Julie 2017. Haar man, Dries Botha, is oorlede tydens ’n plaasaanval op hul plaas Kleinfontein buite Brits in Noordwes. Dries is deur sewe verdagtes oorval en verskeie kere tydens ’n skietery gewond. Hy het ’n paar dae later in die hospitaal aan sy wonde beswyk.
Johan Kloppers van AfriForum se traumaondersteuningseenheid het sedert Dries se begrafnis emosionele ondersteuning aan Drieka gebied; in besonder tydens die hofsaak nadat sewe verdagtes in 2017 gearresteer is. Hy het Drieka tydens hofverrigtinge vergesel en sy is ook deur die traumaeenheid bygestaan met die emosionele voorbereiding om in die hof te getuig.
Twee van die verdagtes het op 6 Desember 2018 ontsnap, wat ekstra traumaondersteuning aan ’n erg geskokte en getraumatiseerde Drieka genoodsaak het. “Ek moes Drieka in die hof bystaan toe die saak weer op 29 Januarie vanjaar in die hof voorgekom het. Sy moes aanhoor dat die twee ontsnaptes ’n belangrike rol in die getuienis van die saak speel en dat hulle afwesigheid dit baie sal bemoeilik om die ander vyf verdagtes aan te kla of skuldig te bevind. Die landdros het Drieka tydens die hofverrigtinge om verskoning gevra. Die saak is tot 15 April 2019 uitgestel sodat die ontsnaptes opgespoor en voor die hof gebring kan word,” sê Johan.
Op 13 Februarie 2019 is een van die verdagtes weer gearresteer. “Ek dink so aan jou woorde aan my die dag ná die hof dat ons moet positief dink sodat positiewe goed gebeur. Dit is waaraan ek vashou,” het Drieka aan Johan gesê.
“Die sekondêre trauma as gevolg van die verdere gebeure was vir Drieka baie moeilik om te hanteer, maar ek glo dat AfriForum se traumaondersteuningseenheid se volgehoue ondersteuning, spesifiek om haar te help om positief te bly, haar sal dra totdat reg en geregtigheid geskied,” sê Johan.
Hierdie is net een van menige voorval waarby AfriForum se traumaondersteuningseenheid betrokke is. “Ons lewer ’n unieke diens en ons stap met elke slagoffer ’n pad na herstel. Hoewel hulle nooit weer dieselfde sal wees ná die verlies van ’n geliefde nie. Of die trauma weens ’n plaasaanval of geweldsmisdaad gebeur – lede van die traumaeenheid staan bankvas agter die slagoffers met wie ons werk. Dit wat ons doen, is nie ’n werk nie, maar ’n roeping,” sluit Johan af.